Nuus 11:00
BULLETIN 5 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die noodsaaklikheid om die land se logistieke argitektuur te herstel
# Krieket: Nieu-Seeland oorheers met die kolf in die eerste toets teen Suid-Afrika
# En, minister Kodwa wens Tyla geluk met haar geskiedkundige Grammy-toekenning
# President Cyril Ramaphosa sê as Suid-Afrikaanse maatskappye geleenthede van die Afrika-vasteland Vryehandelsgebied wil benut, moet die land se logistieke argitektuur herstel word. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief ‘n logistieke padkaart vir vragvervoer is opgestel waarin ʼn duidelike stel take uiteengesit is om Transnet se diens op die kort én lang termyn te verbeter. Ramaphosa sê die stappe wat nou gedoen word, sal nie net prestasie in die korttermyn verbeter nie, maar volgens hom ook ʼn ware mededingende en doeltreffende stelsel vir die toekoms skep.
# Die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, is bemoedig deur die voorlopige syfers vrygestel deur die Verkiesingskommissie, wat aandui Suid-Afrikaners is gereed om die nasionale en provinsiale verkiesing te gebruik om die nuwe leiers te verkies wat almal verdien. Die party se adjunk-nasionale voorsitter, Cilna Steyn, sê wat opvallend is, is dat ongeveer 200-duisend Suid-Afrikaners sedert die November-registrasienaweek die OVK se aanlyn-kiesersportaal gebruik het om vir die verkiesing te registreer:
# Amerika se president Joe Biden het by wêreldleiers aangesluit wat hulde bring aan Namibië se president Hage Geingob. Die 82-jarige president wat kankerbehandeling ontvang het, is gister dood. Biden sê Geingob was ʼn vreeslose leier, ʼn welsprekende kampvegter vir sy land én Afrika, en ʼn persoon wat opgestaan het vir sy waardes en oortuigings. Die Russiese president, Vladimir Putin, sê dis moeilik om Geingob se bydrae tot die ontwikkeling van vriendskaplike verhoudings tussen Namibië en Rusland te onderskat. Zimbabwe se president, Emmerson Mnangagwa, sê Geingob se leierskap en veerkragtigheid sal onthou word.
# Krieket: Suid-Afrika het teen uitskeityd op dag twee van die eerste toets teen Nieu-Seeland in Mount Maunganui 80 vir vier op die telbord gehad. Rachin Ravindra het sy merkwaardige terugkeer voortgesit, en sy eerste dubbele honderdtal bereik, toe hy 240 van 366 balle aangeteken het, voordat die Black Caps op 511 in hul eerste beurt uitgeboul is. Die SA kaptein Neil Brand het ses paaltjies ingeöes. In antwoord is David Bedingham onoorwonne op 29, met Suid-Afrika wat nog 431 lopies agter Nieu-Seeland is, met ses paaltjies staande.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-822-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte, die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Tyla gelukgewens met haar eerste Grammy-toekenning. Die 22-jarige het in die nuwe kategorie, Beste Afrika-musiekuitvoering gewen met haar groot treffer, Water. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Suid-Afrika het sterk verteenwoordiging gehad by die Grammys, met Trevor Noah wat vir ‘n vierde keer gasheer was én benoem is vir Beste Komedie-album, terwyl die a-capella-groep, Just 6, én Musa Keys ook benoem is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….