Nuus 11:00
BULLETIN 14 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement sê die kansellasie van die transaksie tussen SAL en Takatso is ‘n oorwinning vir aanspreeklikheid
# Die landdros wat die korrupsiesaak van ‘n gewese hoof van Eskom hanteer het, het nie sy eie sakebelange in die kragvoorsiener verklaar nie
# En rugby: Eddie Jones oorweeg ‘n nuwe speelstyl vir Japan
# Die ATM sê die herroeping van die ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Takatso-konsortium is ‘n oorwinning vir integriteit en toerekenbaarheid. Die minister van Openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het gister aangekondig die ooreenkoms waarin 51-persent aandele in die SAL aan Takatso verkoop sou word, is geskrap. Die minister sê die SAL is ná Covid-19 geherwaardeer en dit was meer as Takatso se oorspronklike aanbod van drie-miljard-rand. Zama Ntshona van die ATM sê die bewaring van nasionale bates is noodsaaklik:
# Die landdros in die korrupsiesaak teen Eskom se gewese groeps-uitvoerende hoof, Matshela Koko, en sewe mede-beskuldigdes het na bewering versuim om sy sakebedrywighede met die kragvoorsiener te verklaar. Die saak is verlede jaar van die rol geskrap. News24 berig die waarnemende landdros, Stanley Jacobs, is ‘n direkteur en aandeelhouer van BEP African Consulting. Eskom het dié maatskappy skynbaar 14,3-miljoen rand betaal terwyl Koko en sy medebeskuldigde, Frans Sithole, senior poste by die kragvoorsiener beklee het. Jacobs sê dit was nie nodig om iets te verklaar nie, omdat die maatskappy dormant was.
# Die DA sê dit is duidelik dat die Stad Tshwane op pad is na finansiële herstel. Dié reaksie volg nadat die oudit-uitkoms van die metro ‘n verbetering getoon het, van ongunstig in 2022 tot gekwalifiseerd verlede jaar, wat vordering in bestuur aandui. Die DA se woordvoerder in die metro, Kwena Moloto, sê burgemeester Cilliers Brink en sy leierskap het groot vordering gemaak om fiskale aanspreeklikheid te verhoog en verkwistende uitgawes en korrupsie hok te slaan:
# ’n Skip met humanitêre hulp wat Dinsdag uit die hawestad Larnaca in Ciprus vertrek het, is naby Gaza. Die vaartuig vervoer 200 ton kos, wat gelykstaande is aan sowat ‘n half-miljoen etes. Die organisasie, World Central Kitchen, wat die voedsel gaan versprei, sê ‘n tweede en veel groter vaartuig is op bystand in die hawe van Larnaca met nóg hulp vir Gaza. Die Verenigde Nasies het gewaarsku dat minstens 576-duisend Palestyne in Gaza een tree weg is van hongersnood. Dit is sowat ‘n kwart van Gaza se bevolking.
# Rugby: Japan se hoofafrigter, Eddie Jones, sê hy wil ‘n nuwe spelstyl skep wat avontuurlik en aanvallend is. Die 64-jarige Jones rig die Brave Blossoms die tweede keer af nadat hy verlede jaar bande met Australië gebreek het, nadat die Wallabies die eerste keer in die geskiedenis nie die Wêreldbeker-uitklopfase kon haal nie. Jones se eerste wedstryd in beheer van Japan is in Junie teen Engeland, wat hy van 2015 tot 2022 afgerig het. Hy sê hy wil nuwe Japanse talent ontgin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-534-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-168-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….