Nuus 11:00
BULLETIN 29 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa sê die nuwe Transnet-hoof is regte persoon vir die pos
# Dokters Sonder Grense waarsku oor ‘n wêreldwye tekort aan cholera-entstof te midde van ‘n Afrika-uitbreking
# En tennis: ATP-toer en Saoedi-Arabië teken ‘n ooreenkoms vir wêreldwye groei
# Business Leadership South Africa het Michelle Phillips se aanstelling as Transnet se nuwe uitvoerende hoof verwelkom en sê sy is die regte persoon vir die pos. Phillips, wat sedert 2001 by die staatsinstelling is, tree sedert Oktober verlede jaar op as uitvoerende hoof. Transnet het in die ses maande tot September verlede jaar ‘n verlies van 1,6-miljard-rand getoon. Boonop was daar ʼn daling in die spoor-, hawe- en pyplyn-volumes. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê Phillips verstaan dat die regering en Transnet alleen nie die instelling kan omkeer nie.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie sê hy is bekommerd oor die toename in geweldsmisdade, veral die 2,1-persent-toename in moord en 13-persent in poging tot moord. Die komitee is ingelig oor die derde kwartaal se misdaadstatistiek, van Oktober tot Desember verlede jaar. Die komiteevoorsitter, Nocks Seabi, sê hy verwelkom die 2,7-persent-daling in seksuele oortredings. Hy voeg egter die 15-duisend-284 gevalle wat aangemeld is, is steeds te hoog en vereis ʼn gefokusde benadering om die plaag te verminder.
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, kondig vandag die party se premierskandidaat vir Gauteng aan in Newtown, Johannesburg. Volgens berigte is die provinsiale voorsitter, Funzi Ngobeni, die gunsteling. ActionSA se woordvoerder, Malaika Ditabo, sê Gauteng is die sterkste provinsie wat ʼn deurslaggewende rol sal speel in die komende verkiesing:
# Die internasionale mediese humanitêre organisasie, Dokters Sonder Grense, sê die wêreldwye voorraad van cholera-entstowwe is uitgeput, met baie Afrikalande wat worstel met uitbrekings van waterverspreide siektes. Bestaande dosisse in produksie word reeds tot middel Maart toegeken, met die aanvraag wat steeds groei. Save the Children neem kennis van ‘n viervoudige toename in cholera-gevalle in Malawi, Zimbabwe en Mosambiek tussen 2022 en verlede jaar, wat 95-duisend-300 bereik het met een-duisend-600 sterftes. Openbare gesondheidskenners doen ‘n dringende beroep op vervaardigers om entstofproduksie te bespoedig, weens die voortslepende cholera-epidemies.
# Tennis: Die ATP-toer en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het ‘n strategiese vennootskap van vyf jaar gesluit om die groei van die sport wêreldwyd te versnel. Die fonds sal voortaan ook in die titel van die toer genoem word en sal op groot toernooie in Indian Wells, Miami, Madrid en Beijing, die ATP-eindstryd en die Next Gen ATP-eindstryd op die baan aangebring word. ATP se hoofbestuurder, Massimo Calvelli, sê die vennootskap sal die toekoms van die sport op die lang termyn verstewig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-194-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-36-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….