NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 10 vm
Goeiemôre,
In die bulletin:
# Tshwane verslap waterbeperkings in die stad
# ‘n Voormalige polisiestasiebevelvoerder neem haar eie lewe voor haar hofverskyning
# En, Donald Trump verwerp aantygings oor dokumente in Withuis-toilet
# Die Stad Tshwane het sy waterbeperkings verslap om volle druk toe te laat sodat sy opgaardamme kan herstel. Die stad is in gesprek met Randwater om te bepaal wat gedoen kan word om waterdruk te verhoog. ‘n Woordvoerder van die Stad Tshwane, Jordan Griffiths, het in ‘n onderhoud met eNCA inwoners weer gemaan om water spaarsamig te gebruik:
Speel klankgreep: ENG WaterRestored
# Die voormalige stasiebevelvoerder van die Mandeni-polisiekantoor in KwaZulu-Natal het gisteroggend haar eie lewe geneem voor sy in die hof sou verskyn. Mary-Jane Ziningi Zulu sou in die Richardbaaise Handelshof op twee aanklagte van die diefstal van bewysstuk-geld van meer as 108-duisend-rand verskyn het. ‘n Woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Grace Langa, sê Zulu het gif gedrink. Die saak is nou na Maart uitgestel vir die oorledene se regsverteenwoordigers om ‘n doodsertifikaat by die hof in te dien.
# Kenners glo strukturele veranderings is nodig wanneer senior poste in die Staatsveiligheidsagentskap gevul word. Die politieke ontleder Ongama Mtimka het na aanleiding van die staatsrede gesê president Cyril Ramaphosa behoort verskillende departemente doeltreffender te gebruik, en moet self beter leierskap voorsien. Hy meen die president se aanwys van taakspanne is die maklike uitweg, in plaas daarvan om betrokke te raak by departemente se take en hulle te help om hulle rol te vervul.
# Krieket: Die Engelse en Walliese Krieketraad het die verbod op Yorkshire opgehef om internasionale en groot wedstryde op Headingley in Leeds aan te bied. Dit is ingestel toe ‘n gewese speler, Azim Rafiq, onthul het hoe daar teen hom gediskrimineer is weens sy velkeur. Rafiq het die besluit verwelkom en die raad sê Yorkshire het bewys hy is verbind tot die bou van ‘n kultuur van gelykheid, verskeidenheid en insluiting. Engeland speel in Junie ‘n toets teen Nieu-Seeland op die veld en die volgende maand ‘n eendagwedstryd teen die Proteas.
# En ten slotte: ‘n Komitee van die Amerikaanse Kongres ondersoek die voormalige president Donald Trump se hantering van rekords ná 15 kartondose vol dokumente van sy Florida-oord na ‘n federale agentskap oorgeplaas is. Die komitee probeer vasstel of daar geklassifiseerde inligting in die dokumente is. ‘n Boek wat binnekort verskyn en deur die New York Times-joernalis Maggie Haberman geskryf is, sê personeel het dokumente ontdek wat in Trump se ampstermyn in sy toilet in die Withuis beland het. Die voormalige Republikeinse president het dié inligiting kategories ontken.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….