Nuus 09:00
BULLETIN 20 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa herhaal oproepe vir selfbeheersing in die Israel-Iran-konflik
# ‘n ‘Bomaanval’ tref ‘n militêre basis in Irak
# En, krieket: De Kock en Rahul help Lucknow Super Giants om Chennai te looi in hulle IPL-wedstryd
# President Cyril Ramaphosa het sy stem gevoeg by oproepe op Iran en Israel om hulle te weerhou van eskalerende konflik. Ramaphosa het tydens ‘n verkiesingsveldtog in Inanda, KwaZulu-Natal, met die media gepraat en teen verdiepende konflik en ‘n streekoorlog gewaarsku. Ramaphosa het verwys na vorige waarskuwings oor die Israel-Hamas-oorlog se uitkring-effek. Hy benadruk die uiterste noodsaaklikheid van die versigtige hantering van die Israel-Palestina-konflik om breër Midde-Oosterse geweld te voorkom:
#Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, sal vandag in Johannesburg, Gauteng die EMPOWAMEN-beraad toespreek. Die beraad bring drieduisend mans byeen om toksiese manlikheid te konfronteer, stereotipes te verbreek en die begrip ‘manlikheid’ te herdefinieer. Die woordvoerder vir die departement, Lumka Oliphant, sê dié beraad het ook ten doel om mans te bemagtig om geslagsgeweld en vrouemoord te help bekamp en gesinne te versterk. Sy beklemtoon die departement se verbintenis om gesinne te ondersteun, veral dié wat finansiële en maatskaplike uitdagings in die gesig staar:
# Talle mense is vroeg vanoggend gewond in ‘n “bomaanval” op ‘n Irakse militêre basis wat ‘n koalisie van pro-Iranse gewapende magte huisves. Die ontploffing het die Calso-militêre basis suid van Bagdad getref, waar Irak se Mobilisasiemagte, bekend as Hashed al-Shaabi, gestasioneer is. ‘n Binnelandse Sake-bron en ‘n militêre amptenaar het aan AFP gesê die “lug-bomaanval” het een persoon gedood en nog agt gewond. Kort ná die ontplossing het die Amerikaanse weermag gesê sy magte was nié agter die aanval in Irak waaroor berig is nie.
# Krieket: ‘n Aanvangsvennootskap van 134 het gisteraand gesorg dat Lucknow Super Giants maklik Chennai Super Kings se totaal van 176- vir-ses bereik het, vir ‘n oorwinning van agt paaltjies in hulle IPL-wedstryd in Lucknow. Quinton de Kock het 54 geslaan van 43 balle af, en kaptein KL Rahul, 82 van 53 balle, met 14 grenshoue en vier sesse tussen die twee van hulle. Nicholas Pooran se 23 en Marcus Stoinis met agt het die wenstreep oorgesteek met nog ses balle oor.
# En, om mee af te sluit: Agt van die voormalige Formule Een-wêreldkampioen, Michael Schumacher, se spesiale horlosies sal na verwagting volgende maand altesaam meer as 90-miljoen-rand op ‘n veiling in Switserland haal. Die luukse, persoonlike horlosies sal van 3 tot 5 Mei in New York uitgestal word voor die Christie’s-veiling in Genève op die 13de. Schumacher se familie glo horlosieversamelaars sal hul ware waarde kan waardeer. Die Duitse renjaer het sewe wêreldtitels gewen voordat hy in 2013 ‘n kopbesering opgedoen het tydens ‘n ski-ongeluk, waarna hy uit die openbare oog verdwyn het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….