Nuus 09:00
BULLETIN 16 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu verwerp die Elektrisiteits-wysigingswetsontwerp
# Kaapstad se burgemeester sê die stad werk onverpoos om MyCiTi-busdiens uit te brei
# En, krieket: ‘n Tiener word by die vroue T20-internasionale span ingesluit
# Die vakbondfederasie Saftu is ontevrede met die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteit wat die parlement goedgekeur het. Die federasie het in sy voorlegging aan die parlement, waarin hy die wetsontwerp teenstaan, kennis geneem dat dit voorsiening maak vir die daarstelling van ‘n transmissiemaatskappy en ‘n mark vir energie-opwekking. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê dit sal die verskaffing van energie verder privatiseer:
# Die vakbond Solidariteit sê die finansiële sektor staar potensiële skade in die gesig deur rassevoorskrifte vir ondernemings en werknemers. Daar is kommer of die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor in lyn is met die Breed-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtigingskommissie se transformasievereistes. Die vakbond voer aan indien die Wetsontwerp oor die Gedrag van Finansiële Instellings wet word, ondernemings wat nie aan hierdie reëls voldoen nie, hul lisensies kan verloor weens nie-nakoming. Riaan Visser van Solidariteit versoek die owerheid om sy regulatoriese rol voorop te stel, bo die afdwinging van rasseteikens, om werkverliese en sluitings van ondernemings te voorkom.
# Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die stad werk hard aan die uitbreiding van die MyCiTi-busdiens na Philippi, Mitchells Plain en Khayelitsha aan die suidoostekant van die metro. Hill-Lewis het twee nuwe MyCiTi-depots tussen Khayelitsha en Mitchells Plain besoek om die vordering te sien. Die burgemeester sê wanneer dit voltooi is, sal duisende pendelaars toegang tot veilige, betroubare en regstreekse openbare vervoer op een van die stad se besigste vervoerroetes hê:
# Krieket: Die Lions se paaltjiewagter en kolwer Karabo Meso is by die Proteas se span van 15 spelers ingesluit wat vir die vroue T20-internasionale reeks teen Sri Lanka gekies is. Die 16-jarige het haar merk gemaak na ‘n indrukwekkende vertoning by die eerste onder-19 Vroue T20-Wêreldbeker in Suid-Afrika verlede jaar, toe sy deel was van die span wat as Span van die Toernooi aangewys is. Die reeks word van 27 Maart tot 3 April in Benoni, Potchefstroom en Oos-Londen beslis.
# En, die Ierse akteur Pierce Brosnan het om verskoning gevra nadat hy ‘n boete opgelê is omdat hy van ‘n voorgeskrewe roete afgewyk het in die Yellowstone Nasionale Park in Amerika. Die 70-jarige Brosnan, wat bekend is vir sy rolle in die James Bond en Mamma Mia! flieks, het in Januarie onskuldig gepleit, maar het later sy deuntjie verander en op Instagram aangekondig hy het ‘n waarskuwingsteken teen betreding nie gesien nie. Brosnan het in November verlede jaar in die gebied ingestap wat nie toeganklik was nie. Hy is ‘n boete van sowat nege-duisend-rand opgelê, en is ook gelas om 18-duisend-rand te skenk aan die nie-winsgewende organisasie Yellowstone Forever.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….