Nuus 09:00
BULLETIN 13 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê hy neem kennis van dreigemente van regstappe teen die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake
# Die Parlement se komitee oor Binnelandse Sake verwelkom die afdanking van die OVK-personeellid verantwoordelik vir die lyslekkasies
# En in wêreldnuus: Die Europese Unie versterk sy steun vir die mense van Gaza
# Die ANC-parlementêre koukus het die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake verwelkom en sê dit is ‘n mylpaal om die mees-verteenwoordigende Parlement en provinsiale wetgewer te verseker. Die wetsontwerp sal die Befondsingswet op Politieke Partye van 2018 wysig en verskeie stukke wetgewing in lyn bring met die Verkiesingswysigingswet van 2023. Dit maak ook voorsiening vir onafhanklike kandidate om hul befondsingsbronne te verklaar. Die ANC sê hy neem kennis van dreigemente van regstappe deur sommige opposisiepartye, maar hy is vol vertroue dat die wetsontwerp voldoen aan voorskrifte van die Grondwet.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake het die vinnige optrede deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie verwelkom, betreffende die ondersoek na die uitlek van kandidatelyste. ’n Werknemer van die OVK is afgedank, ná ’n voorlopige ondersoek na die ongemagtigde verspreiding van die ANC en MK Party se nasionale en provinsiale verkiesingskandidaatlyste. Die komitee se voorsitter, Mosa Chabane, sê dit is belangrik dat die integriteit van die verkiesingsproses te alle tye beskerm word:
# Die Stad Kaapstad sê interne prosesse is aan die gang om ‘n interdik-aansoek voor te berei teen afpersers, wat die MyCiTi-busdienskonstruksie in Mitchells Plain vertraag het. Die projek van 340-miljoen-rand is deel van die uitbreiding van die MyCiTi-diens na Mitchells Plain, Khayelitsha, Claremont en Wynberg. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê die interdik sal hopelik voor die einde van die week ingedien word:
# Die Europese Kommissie het sy EU Burgerlike Beskermingsmeganisme geaktiveer om sy ondersteuning aan die mense van Gaza te versterk. Die oorlog in Gaza het in Oktober verlede jaar begin toe gewapende Hamas-lede die suide van Israel aangeval en een-duisend-200 mense doodgemaak en 253 gyselaar geneem het. Meer as 31-duisend mense is intussen in Israelse wraakaanvalle dood. Die Europese Unie se president, Ursula von der Leyen, sê burgerlikes se beskerming moet altyd verseker word en in ooreenstemming met internasionale reg wees:
# Krieket: Skotland se beheerliggaam sê hy het reeds opgetree volgens aanbevelings in ‘n skokkende verslag wat toon dat seksisme en verouderde persepsies algemeen in die sport voorkom. Vroue-spelers het Krieket Skotland daarvan beskuldig dat hulle ‘n giftige omgewing skep en dat hulle bevooroordeeld is teen hulle. BBC Sport berig die uitvoerende hoof, Trudy Lindblade, sê die bevindings is ‘n verdoemende aanklag. Sy verbind haar daartoe om die sport toeganklik en veilig te maak vir alle vroue en meisies, en beloof ‘n nuwe strategie om die kwessie te hanteer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-149-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-157-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-37sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….