Nuus 08:00
BULLETIN 23 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid daarvan om die land se hawens te verbeter
# Die portefeuljekomitee vir Justisie en Korrektiewe Dienste keur die wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsgesag goed
# En, Israel sê geen gyselaars sal voor môre vrygelaat word nie
# President Cyril Ramaphosa sê hawens se eindpunte verskaf ‘n multimodale verbindingspunt aan die streek en die res van die wêreld en bevorder daarmee groei in die toerismebedryf. Hy het gisteraand die Nelson Mandela-terminaal in die Durbanse hawe in KwaZulu-Natal geopen. Die Mediterranean Shipping Company het in 2019 ʼn openbaar-privaat-vennootskap met Transnet onderteken om ʼn nuwe terminaal by die Durbanse hawe te ontwerp, te bou en te bedryf. Ramaphosa sê dis deel van ʼn breër nasionale plan om die land se hawens te verbeter:
# Die parlementêre portefeuljekomitee vir Justisie en Korrektiewe Dienste het ʼn wetsontwerp goedgekeur om ʼn teenkorrupsie-liggaam in die Nasionale Vervolgingsgesag aan te stel. Die NVG-wysigingswetsontwerp sal die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag wysig om ʼn permanente Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie tot stand te bring, sy magte en funksies uiteen te sit en ondersoekers aan te stel. Opposisiepartye en burgerregtegroepe bevraagteken die onafhanklikheid van ʼn teenkorrupsie-eenheid wat in ʼn regeringsagentskap gehuisves word. Die Departement van Justisie sê egter die eenheid sal wetgewende beskerming geniet.
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, besoek vandag die Eersterus-kliniek naby Mamelodi in Tshwane. Dis deel van ʼn voortgesette program om die stand van gesondheidsdienslewering in die land te monitor en te assesseer. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê hierdie besoeke aan gesondheidsfasiliteite gee die minister eerstehandse ervaring van die probleme in die openbare gesondheidstelsel sodat hy onmiddellike en langtermyn-ingrypings kan aanbeveel om die gehalte van gesondheidsdienste te verbeter.
# ʼn Senior Israeli-amptenaar sê die beplande uitruiling van sowat 150 Palestyne in Israelse tronke vir 50 gyselaars in Gaza is tot môre op die vroegste uitgestel. Daar is teenstrydige berigte oor wat die oponthoud veroorsaak het. Sommige beweer Hamas het nie die skietstilstand bekragtig nie en ander sê Hamas het nie aan Israel ʼn lys name gegee van die gyselaars wat vrygelaat gaan word nie. Die Israelse regering se woordvoerder, Eylon Levy, het aan MSNBC gesê die oorlog moet eindig met die totale vernietiging van Hamas:
# Motorsport: Die Formule 1-wêreldkampioen, Max Verstappen, en ander top-jaers sal hierdie naweek die eerste oefenronde vir die Grand Prix in Abu Dhabi misloop. Hulle word deur onervare jaers vervang aangesien die reëls vereis ʼn nuweling moet elkeen van hulle motors gedurende die seisoen bestuur, en die meeste spanne het dit tot die laaste wedren van die seisoen uitgestel. Verstappen se Red Bull-spanmaat, Sergio Perez, loop ook die oefening mis asook ander bestuurders soos Lewis Hamilton van Mercedes, Charles Leclerc van Ferrari en Lando Norris van McLaren.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-299-dollar-89-sent. Die prys van goud is een-duisend-993-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….