Nuus 08:00
BULLETIN 22 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG het glo ‘n sterk span saamgestel om die Steinhoff-saak te hanteer
# Die GOOD Party sê 25% van Gauteng se vars drinkwater gaan verlore weens lekkasies
# En sokker: Die voormalige Bafana Bafana-afrigter Stanley Tshabalala is gewond tydens ‘n inbraak in Centurion
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het blykbaar ‘n sterk span saamgestel om vandag ʼn reeks aanklagte teen die gewese Steinhoff-hoof, Markus Jooste, en ander voormalige uitvoerende hoofde te hanteer. Jooste het volgens berigte gister by sy huis in Hermanus sy eie lewe geneem. Sy dood volg nadat die Finansiële Sektor Gedragsowerheid hom met 475-miljoen-rand beboet het omdat hy ʼn wanvoorstelling van Steinhoff se finansiële state voorgelê het. Daily Maverick berig ʼn regter sou advokaat Michelle le Roux, Wim Trengove en Michael Mbikiwa vandag insweer om as staatsaanklaers in die Steinhoff-saak op te tree.
# Die GOOD Party in Gauteng sê dis duidelik die provinsie se waterstelsel is nie goed onderhou nie. Hy voeg by dis ʼn weerspieëling van infrastruktuur-tekorte in Suid-Afrika weens historiese onreg. Inwoners in sekere dele van die provinsie ervaar reeds weke lank watertekorte. Dewan de Swardt van die GOOD Party sê ongeveer 25-persent van die vars drinkwater in Gauteng gaan weens lekkasies verlore. Hy sê in die Stad Johannesburg is die verlies 44-persent:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het die ANC-geleide regering geloof vir die toegang tot onderwys die afgelope 30 jaar. Makaneta sê onderwys as mensereg moet gevier en beskerm word. Hy erken ook die nasie moet nog baie doen om sommige uitstaande kwessies aan te spreek. Dit sluit in puttoilette, veilige en betroubare skoolvervoer, oorvol klaskamers en historiese studenteskuld. Hy sê die regering, burgerlike samelewing en privaat sektor moet onderwys se ontwikkelende probleme aanspreek.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het die Europese Unie se leiers se ondersteuning gevra vir meer lugdekking om oostelike stede teen Russiese bomaanvalle te beskerm. Hy het gister op die eerste dag van die EU se leiersberaad in Brussel gepraat. Zelensky sê daar is vyf noodsaaklike elemente nodig om Oekraïne en die hele Europa teen Russiese aggressie en terreur te beskerm. Hy sê dit is lug-verdediging, artillerie-ammunisie, politieke eenheid, die vries van Russiese bates en die versekering dat Europa se verdediging selfonderhoudend is:
# Sokker: Polisie in Gauteng het ʼn soektog begin nadat die gewese Bafana Bafana-afrigter, Stanley Tshabalala, tydens ʼn inbraak by sy huis in Centurion, Tshwane, geskiet is. Tshabalala was die eerste Bafana Bafana-hoofafrigter nadat Suid-Afrika in 1992 weer in internasionale sokker toegelaat is. Hy was ook Mamelodi Sundowns se afrigter en het sedert 2008 verskeie belangrike posisies by Orlando Pirates beklee. ʼn Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê Tshabalala sterk aan in die hospitaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-968-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-172-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….