Nuus 08:00
BULLETIN 14 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die SAL-Takatso-transaksie het in duie gestort weens ‘n gebrek aan ’n politieke wil
# AfriForum dien ‘n dringende aansoek in teen Rand Water oor verminderde watertoevoer
# En die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers aanvaar ‘n wetsontwerp wat daartoe kan lei dat TikTok verbied word
# ActionSA sê dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens-Takatso Konsortium-transaksie in duie gestort het weens die gebruiklike interne teenkanting binne die drieparty-alliansie, téén die aangekondigde maatreëls om die nasionale lugdiens te privatiseer. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het gister aangekondig, die transaksie, om 51-persent van die SAL aan Takatso te verkoop, is gekanselleer, ná talle struikelblokke. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die SAL moet dringend verkoop word:
# Die president van die Reserwebank Lesetja Kganyago sê etiese leierskap is lewensnoodsaaklik in die finansiële sektor te midde van ekonomiese uitdagings. News24 berig Kganyago vra meer morele kapitaal in die sektor te midde van uitdagings soos die rand-manipulasie-ondersoek en die plasing van die land op ‘n gryslys. Hy sê die groter wordende groei-gaping vergeleke met die wêreld-gemiddeld, en infrastuktuur-tekortkominge is sleutelfaktore. Kganyago sê die negatiewe uitwerking van stygende regeringskuld speel ook ‘n rol. Hy vra ‘n gesamentlike poging om die integriteit van Suid-Afrika se finansiële stelsel te beskerm.
# AfriForum sê hy het ‘n dringende aansoek teen Rand Water ingedien. Dit is ná die nutsmaatskappy se besluit, verlede week, om watertoevoer te verminder na verskeie munisipaliteite, wat hom gesamentlik drie-miljard-rand skuld. Die betrokke munisipaliteite sluit in, Emfuleni en Lesedi in Gauteng, Ngwathe in die Vrystaat, en Govan Mbeki in Mpumalanga. AfriForum sê, Rand Water se besluit om watervoorsiening te verminder, al is dit dalk gedrewe deur operasionele of finansiële beperkings, het vérreikende implikasies vir die gemeenskappe wat geraak word.
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het die Wet op die Beskerming van Amerikaners teen Buitelandse Opposisie-beheerde Toepassings goedgekeur. Dié wetsontwerp kan die weg baan vir ‘n verbod op die TikTok-toepassing in die land. Die sosiale-mediareus se Chinese moedermaatskappy, ByteDance, het ses maande om sy beherende aandeel te verkoop, anders sal die toepassing in die VSA verbied en geblokkeer word. TikTok het ongeveer 170-miljoen gebruikers in Amerika. Die Wisconsin Republikein, en mede-outeur van die tweeparty-wetsontwerp, Mike Gallagher, sê dié sosiale media-toepassing hou ‘n risiko in vir nasionale veiligheid:
# Olimpiese Spele: Rusland se minister van Sport glo sy regering moenie die Spele in Parys boikot nie, al mag die land se atlete nie onder hul eie vlag deelneem nie. Oleg Matytsin het vir die eerste keer reageer op die Internasionale Olimpiese Komitee se besluit dat Russe slegs as neutrale atlete aan individuele items mag deelneem weens die land se inval in Oekraïne. Russiese spansport sal nie aanvaar word nie. Matytsin sê Russiese atlete moet toegelaat word om deel te neem, en Moskou moet die moontlikheid van dialoog oophou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-213-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….