Nuus 08:00
BULLETIN 21 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel herroep sy ambassadeur in Suid-Afrika om te beraadslaag
# Die Nasionale Vryheidsparty hoop die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal die stem-verbod vir die 2024-verkiesing ophef
# En krieket, Nuweland sal die SA20-eindstryd aanbied
# Israel het sy ambassadeur in Suid-Afrika, Eliav Belotserkovsky, teruggeroep. Die besluit kom te midde van ʼn gespanne verhouding met Suid-Afrika wie se senior regeringsamptenare Israel se militêre optrede in Gaza as volksmoord beskryf en die saak na die Internasionale Strafhof verwys het. Die ANC sê hy sal ʼn parlementêre mosie ondersteun, dat die Israelse ambassade in die land tydelik gesluit word. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê soos hy besluit het om diplomate terug te roep, is dit Israel se soewereine reg om dieselfde te doen.
# Die Nasionale Vryheidsparty het sy voorneme aangekondig om met die Onafhanklike Verkiesingskommissie in gesprek te tree in ‘n poging om ‘n plek op 2024 se stembrief te verseker. Die OVK het onlangs die NVP verbied om in die komende verkiesing mee te ding, met verwysing na faksionalisme en leierskaps-geskille. Die party is opdrag gegee om teen Maart wettige leierskap te kies om vir deelname in aanmerking te kom. Die sekretaris-generaal, Canaan Mdletshe, het aan Newzroom Afrika gesê die party hoop om onder die aanspraakmakers in volgende jaar se verkiesing te wees.
# Die KwaZulu-Natalse Onderwysdepartement en die polisie ondersoek bewerings van afknouery by die eMpephose High School in King Cesthwayo-distrik. Dit volg na ʼn TikTok-video wat ʼn graad 11-leerder gedeel het waarin sy beweer sy is deur ʼn seun in haar klas geboelie. Die beweerde afknouery het volgens haar erger geword tot sy minstens twee keer per week geslaan is. Die departement se woordvoerder, Muzi Mahlambi, sê hulle het die meisie gehelp om ʼn saak teen die vermeende oortreder aanhangig te maak:
# Krieket: Die eindstryd van die tweede seisoen van die SA20 word op die tiende Februarie op Nuweland in Kaapstad gespeel. Sunrisers Eastern Cape begin die verdediging van sy titel ʼn maand vroeër op St Georgepark in Gqeberha teen Joburg Super Kings. Altesaam 33 wedstryde word gespeel. Die eerste kwalifiseerder word ook op Nuweland gespeel en twee agtereenvolgende uitklopwedstryde word op die Wanderers in Johannesburg aangebied – die uitklop en die tweede kwalifiseerder.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-560-dollar-86-sent. Die prys van goud is een-duisend-991-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte, die ambassadeur van die Suid-Afrikaanse beenmurg-register, Christine Roos, het die uitmergelende 33-kilometer oor Valsbaai afgelê wat ook die Everest van Kaapse swemgeleenthede genoem word. Sy het gister die ysige water tussen Millers Point en Rooi Els aangedurf en deur geniepsige jellievisse, uitputting en pyn geworstel om die swemtog te voltooi. Roos het dit gedoen om minstens 50-duisend-rand in te samel vir die register se pasiënte-hulpprogram. Sy sê dit was niks in vergelyking met pasiënte en hulle gesinne se stryd om ʼn geskikte skenker te kry sodat ʼn lewensbedreigende bloedsiekte behandel kan word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….