Nuus 07:00 (DGO) 9 Februarie
BULLETIN 9 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê vordering is gemaak om staatskapers aan die pen te laat ry
# Die president sê die regering gaan die Nasionale Gesondheidsversekering geleidelik instel
# En motorsport, die Britse Grand Prix onderteken ’n nuwe tienjaar-ooreenkoms met Formule Een
# President Cyril Ramaphosa sê die ware tragedie van staatskaping is dat dit aandag en hulpbronne weggelei het van dit wat die regering moes doen, naamlik om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Hy het gisteraand tydens sy staatsrede in Kaapstad gesê die gevolge van staatskaping word steeds in die samelewing gevoel; van die tekort aan lokomotiewe tot die verval in die staatsdiens. Ramaphosa sê groot vordering is gemaak om die wat daarvoor verantwoordelik is, aanspreeklik te hou.
Die President sê verder die Nasionale Gesondheidsversekering sal aan alle Suid-Afrikaners gratis gesondheidsorg verskaf by openbare en privaat instellings. Hy oorweeg steeds die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering wat na hom gestuur is vir ondertekening nadat die Parlement dit goedgekeur het. Hy sê die regering wil die gehalte en toegang tot gesondheidsorg verbeter.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, het die tweede Nasionale Minimumloonkommissie aangestel. Dit sal onder voorsitterskap staan van die ekonoom van Wits, Imraan Valodia, wat Adriaan van der Walt opvolg. Die lede sal vir ‘n tydperk van vyf jaar dien. Die funksies sluit in die hersiening van die nasionale minimum loon, en aanbevelings vir die aanpassing daarvan. Die kommissie is ook verantwoordelik vir die ondersoek na en verslag oor die uitwerking van die minimum loon op die ekonomie en op kollektiewe bedinging.
# Die United Independent Movement veroordeel die voorval waarin een van sy party-agente met ‘n skerp voorwerp gesteek is tydens die spesiale registrasienaweek in Mpumalanga – na bewering deur ‘n mededingende politieke party-agent. Vise-president Fatima Abdool het diepe kommer uitgespreek en vra ‘n vreedsame demokratiese bespreking. Sy sê sulke wrede dade weerspreek die wese van demokrasie waarvoor die land geveg het. Abdool vra Suid-Afrikaners ook om aan die komende verkiesing deel te neem om hervormings teweeg te bring en die kommerwekkende neiging van politieke geweld aan te pak.
# Die Verenigde Nasies se organisasie vir menseregte in Palestina het berigte veroordeel dat die Israelse Verdedigingsmag alle geboue in die Gaza-strook vernietig. In die jongste voorval is minstens 14 mense waaronder vyf kinders dood nadat Israel talle woongeboue in Rafah aangeval het. Die hoë kommissaris vir menseregte, Volker Türk, sê vernietiging om ‘n buffersone te skep vir algemene sekerheidsdoeleindes is nie in ooreenstemming met die eng militêre operasies wat in internasionale humanitêre reg uiteengesit word nie.
# Motorsport: Die Britse Grand Prix by Silverstone sal tot 2034 op die Formule Een-program bly. Die nuwe tien-jaar-ooreenkoms beteken die Northamptonshire-baan is in sy negende dekade nadat die heel eerste Formule Een Grand Prix in 1950 daar aangebied is. Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het ‘n rekordgetal van agt Grand Prix-oorwinnings op Silverstone behaal. Die Formule Een-president, Stefano Domenicali, sê Silverstone is ʼn ikoniese renbaan waarheen geesdriftiges van regoor die wêreld stroom vir uitstekende wedrenne en ‘n unieke toeskouerservaring op die pawiljoene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-675-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….