Nuus 07:00 (DGO) 14 Februarie
BULLETIN 14 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika nader die Internasionale Geregshof dringend oor die aanslag op Rafah
# Die Palestine Solidarity Campaign vra die Suid-Afrikaanse regering om teen Israel op te tree
# En, die minister van Elektrisiteit sê die volhoubaarheid van Eskom se opwekkingsafdeling is noodsaaklik
# Suid-Afrika sê Israel se aanslag op Rafah kom neer op ‘n ernstige en onherstelbare oortreding van die Volksmoord-konvensie. Die regering het ‘n dringende aansoek by die Internasionale Geregshof ingedien om voorlopige maatreëls in te stel om te voorkom dat Palestyne se regte geskend word. Kommer is aan die toeneem oor Israel se militêre optrede in die laaste toevlugsoord vir Gaza se oorblywende bevolking. Die Presidensie vra blitsige optrede om verdere skade te beperk te midde van die stygende dodetal in die Gaza.
Die Palestine Solidarity Campaign sê intussen Israel se bomaanvalle op Rafah is ‘n regstreekse oortreding van die Internasionale Geregshof se bevel dat die land alles in sy vermoë moet doen om volksmoord te voorkom. Meer as 100 mense waaronder kinders is dood in Israelse lugaanvalle in Rafah. Die PSC sê in die lig van Israel se oortreding van die bevel, vra hy die Suid-Afrikaanse regering om dringend ʼn gesamentlike veldtog van boikotte, sanksies en onttrekking van beleggings teen Israel te voer.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê terwyl Eskom se ontbondeling voortgaan, is die opwekkingsafdeling se volhoubaarheid noodsaaklik. Dit is om seker te maak die kragvoorsiener bly die ruggraat van die land se vermoë om energie te voorsien. Eskom word in drie entiteite ontbondel, naamlik opwekking, transmissie en verspreiding. Ramokgopa sê sy ministerie sal ʼn onafhanklike transmissie-projekkantoor oprig om verkryging, beplanning en finansiering te bekom vir opgradering, modernisering en uitbreiding van transmissie-infrastruktuur. Hy sê hierdie ingryping sal oor die volgende tien jaar tot soveel as 400-miljard-rand se beleggings in transmissie-infrastruktuur lok.
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n konsultante-firma beveel om 52-miljoen-rand aan die Gautengse regering terug te betaal nadat hy nie bewys kon lewer van sy plan om 75-duisend werksgeleenthede vir jongmense oor ‘n tydperk van drie jaar te skep nie. Amahlo Consulting Services kon slegs bewys lewer van 142 studente wat ‘n kursus bygewoon het, al het hulle 59,7-miljoen-rand ontvang. Daar is ook bevind dat die firma se kantore verlate is, wat vrae laat ontstaan het oor sy bedrywighede. Die hof het verder bevind dat hy nie voldoen het aan tenderprosesse nie, wat op ‘n onregmatige ooreenkoms dui.
# Die Ingonyama Trust se raad sal die eerste keer sedert sy stigting deur sy enigste trustee, koning Misuzulu kaZwelithini, gelei word. Dit volg nadat hy die raadsvoorsitter, Thanduyise Mzimela, afgedank het, skaars nege maande nadat hy aangestel is. Die koning se tradisionele eerste minister, Thulasizwe Buthelezi, sê die koning tree as voorsitter op om stabiliteit in die trust te bring en amakhosi se rol daarin te versterk. Die trust is verantwoordelik vir 2,8-miljoen hektaar grond in die gewese tuisland, KwaZulu-Natal.
# Krieket: Die Protea-vroue verskuif môre hul fokus na hul eenmalige toets teen Australië op die WACA in Perth ná ‘n naelbyter witbal-stryd. Dit sal Suid-Afrika se tweede vierdag-wedstryd wees sedert 2014, en hul eerste toets ooit teen Australië. Die veelsydige Protea-speler Nadine de Klerk sê dit gaan ’n groot uitdaging wees vir al die spelers wees en hulle sal almal hul individuele spelpatroon moet aanpas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-462-dollar-80-sent. Die prys van goud is een-duisend-991-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….