Nuus 07:00
BULLETIN 28 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie ondersoek bewerings dat kunsmatige intelligensie gebruik is vir ‘n toespraak deur die president
# ‘n Vierde groep gyselaars word vrygelaat terwyl die skietstilstand tussen Israel en Hamas verleng word
# En netbal, Suid-Afrika takel Engeland in ‘n reeks van drie toetswedstryde
# Die Presidensie ondersoek bewerings dat president Cyril Ramaphosa se toespraak oor die dekolonisering van onderwys geskryf is met behulp van kunsmatige intelligensie. News24 berig die ondersoek is begin na aanleiding van sosiale mediaplasings wat beweer ChatGPT was betrokke by die skryf van Ramaphosa se toespraak ‘n week gelede. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Mangwenya, het die bewerings ontken en sê die Departement van Basiese Onderwys het die toespraak geskryf. Volgens Mangwenya het die Presidensie die departement versoek om die bron van die konsep te verskaf.
# Die SABC-raad sê hy het volle vertroue in Nomsa Chabeli, wat aangestel is om van 1 Maart volgende jaar as nuwe uitvoerende hoof oor te neem. Sy was voorheen ‘n algemene handelsmerk- en bemarkingsbestuurder by MTN. Chabeli neem oor by Madoda Mxakwe wie se termyn in Junie verstryk. Die SABC-raadsvoorsitter, Khathutshelo Ramukumba, het aan die openbare uitsaaier gesê hulle is vol vertroue in Chabeli se vermoë om inkomste te skep:
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê ‘n sekerheidshersiening is aan die gang nadat ‘n stoeiery uitgebreek het tydens die Senzo Meyiwa-moordverhoor in die Hooggeregshof in Pretoria. Dit is nodig om alle betrokkenes se veiligheid te verseker. Thobakgale is baie ontsteld omdat drie van die beskuldigdes ‘n amptenaar van Korrektiewe Dienste aangeval het. Die department se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê Thobakgale moedig aangehoudenes aan om gevestigde prosesse vir klagtes te volg eerder as om hofsekerheid te ondermyn:
# Die man wat beskuldig word dat hy sy vrou, ʼn student aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie met ʼn mes gesteek het, is vir sielkundige waarneming verwys. Ntembeko Myalo het gister in die Bellville-landdroshof verskyn. Die 32-jarige student aan die Universiteit van die Wes-Kaap word aangekla van poging tot moord nadat hy na bewering sy vrou by ʼn studentewoning in Belhar met ʼn mes gesteek het. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê Myalo sal in aanhouding bly tot hy plek kry in die Valkenberg-hospitaal. Hy sal elke 30 dae in die hof verskyn tot ʼn sielkundige verslag by die hof ingedien word.
# Hamas het nog elf Israelse gyselaars, insluitend ʼn driejarige tweeling, vrygelaat in ruil vir 33 Palestyne wat uit Israelse tronke vrygelaat is. Dit volg nadat ʼn ooreenkoms bereik is dat die skietstilstand tussen Israel en Hamas in Gaza met twee dae verleng word. Hamas het tot dusver 69 gyselaars, hoofsaaklik vroue en kinders, vrygelaat. Israel het 150 Palestyne, hoofsaaklik vroue en minderjariges, uit die tronk vrygelaat waarvan talle volgens berigte nog nie aangekla is nie.
# Netbal: Suid-Afrika het na Engeland vertrek om die Vitality Roses volgende maand op die vyfde, negende en tiende in drie toetswedstryde te takel. Dit sal die derde keer wees dat die twee lande ontmoet met hul jongste kragmetings wat in Januarie in die Quad-reeks was. Engeland het nog nie vanjaar teen Suid-Afrika verloor nie. Netbal Suid-Afrika se president, Cecilia Molokwane, sê hoe meer internasionale blootstelling en ervaring die spelers kry, hoe beter sal hulle word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-148-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-15-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….