Nuus 07:00
BULLETIN 19 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel het na wat berig word ‘n aanval in Iran uitgevoer
# Die DA sê die IMF se projeksies oor SA se werkloosheid kan ‘n ekonomiese bloedbad tot gevolg hê
# En rugby: Die klagte teen die Bulle-flank Cameron Hanekom word teruggetrek
# Israel het volgens berigte ʼn aanval uitgevoer teen Iran. Volgens Iran se staatsbeheerde IRNA-nuusagentskap is talle ontploffings in die sentrale Isfahan-provinsie gehoor. Die provinsie is die tuiste van ʼn belangrike militêre lugmagbasis en talle Iranse kernpersele. Spanning loop hoog in die groter Midde-Ooste ná Iran se hommeltuig- en missielaanval op Israel. Iran se minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahian, het gister gewaarsku sy land sal onmiddellik en op maksimum vlak reageer op enige vergeldingsaanval deur Israel.
# Die DA sê indien die Internasionale Monetêre Fonds se vooruitskouing vir Suid-Afrika waar word, sal dit neerkom op ‘n enorme humanitêre tragedie. Die fonds se 2024-verslag oor Wêreld Ekonomiese Vooruitsigte toon werkloosheid sal vanjaar tot 33,5-persent styg en in 2025 tot 33,9-persent. Traverse Le Goff van die DA sê nóg ʼn styging in die werkloosheidsyfer sal ʼn ekonomiese bloedbad veroorsaak:
# Die Vereniging van Privaat Sekerheidseienaars van Suid-Afrika het met regstappe teen Eskom gedreig oor beweerde afknouery en die teistering van sy lede. Hulle beskuldig die kragvoorsiener hy teiken klein sekerheidsondernemings in swart besit wat hul teen korrupsie uitgespreek het, nadat ‘n bedrieglike tender van 500-miljoen-rand wat aan Fidelity-sekuriteitsdienste toegeken is, blootgelê is. Die vereniging se woordvoerder, Sindiswa Changuion, waarsku hulle sal nie huiwer om hul lede te mobiliseer nie om Eskom se bedrywighede te sluit as hy voortgaan om diegene te straf wat hulle teen misdaad uitspreek:
# Onlangse ondersoeke onthul Nestlé voeg suiker by babakos in Suid-Afrika en ander lae- en middelklaslande, met suikervrye formules wat in Westerse markte verkoop word. ‘n Gesamentlike ondersoek deur Public Eye en die Internasionale Babakos-aksienetwerk beskuldig die multinasionale maatskappy van die verontagsaming van gesondheidsriglyne. Gewilde handelsmerke soos Nido en Cerelac toon ‘n hoër suiker-inhoud van tot vier-gram per porsie in armer streke. Nestlé verdedig streeksresep-aanpassings en beweer voedings-integriteit is nie op die spel nie.
# Die Stad Johannesburg sê hy gaan streng optree teen wanbetalers wat nooit hulle verantwoordelikhede nakom om te betaal wat hulle verskuldig is nie. Die stad het gister die watertoevoer en elektrisiteitsverbindings na groot gebruikers soos landgoedere, hospitale en ʼn universiteit afgesny wat saam meer as ʼn miljard-rand aan munisipale dienste skuld. Dis deel van sy aggressiewe Kredietbeheerveldtog. Die stad se woordvoerder, Nkosana Lekotjolo, sê die metro het ʼn stygende en onvolhoubare skuldlas van meer as 52-miljard-rand:
# Rugby: ʼn Onafhanklike tugkomitee het ʼn klag teen die Bulle se flank, Cameron Hanekom, ter syde gestel en hy is nou beskikbaar vir Saterdag se Rugbykampioenskap-kragmeting teen Munster. Hy het verlede week in hulle verloor-wedstryd teen die Northampton Saints in die Kampioenebeker-kwarteindronde ʼn geelkaart ontvang vir ʼn gevaarlike hoogvat op die binnesenter Fraser Dingwall. Die komitee het die klag verwerp en sê Hanekom is wel skuldig aan vuilspel, maar dit regverdig nie ʼn rooikaart nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-611-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-406-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….