Nuus 07:00
BULLETIN 23 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Misdaad kos Suid-Afrika elke jaar tien-persent van die bruto binnelandse produk
# Solidariteit sê die Nasionale Vervolgingsgesag moet Matshela Koko en sy medebeskuldigdes vervolg
# En, Vladimir Putin sê Rusland is gereed vir samesprekings om die tragedie van oorlog in Oekraïne te beëindig
# ‘n Studie deur die Wêreldbank toon dat die stygende misdaadsyfers in Suid-Afrika die ekonomie jaarliks tien-persent van sy bruto binnelandse produk kos. Die verslag, ‘Veiligheid eerste: die ekonomiese koste van misdaad in Suid-Afrika’, beklemtoon dat een uit elke vyf huishoudings jaarliks deur misdaad geraak word. Die studie het bevind misdaad belemmer die land se ontwikkelingsdoelwitte om hoë en inklusiewe groei te bereik. Die bevindings beklemtoon die dringende behoefte aan wetgewende maatreëls om owerhede te bemagtig om hoëvlak-misdade te vervolg en gespesialiseerde ondersoekers te werf.
# Eskom sê sy raad werk hard om finansiële en operasionele te herstel, met verbeterde aanlegprestasie en gevolgebestuur vir korrupsie. Die kragvoorsiener het gister aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Openbare Ondernemings verslag gedoen. Eskom het in die boekjaar wat in Maart vanjaar geëindig het ‘n rekordverlies van byna 24-miljard-rand getoon. Die kragverskaffer se waarnemende uitvoerende hoof, Calib Cassim, sê die toename in munisipale skuld is kommerwekkend:
# Solidariteit het aan die Nasionale Vervolgingsgesag geskryf en geëis dat die gewese Eskom-hoof Matshela Koko en sy medebeskuldigdes as prioriteit weer in die hof verskyn. Dit volg nadat die Middelburg-streekhof die Kusile-korrupsiesaak van 2,2-miljard-rand van die rol geskrap het. Koko word beskuldig dat hy die baasbrein was agter ʼn korrupte skema wat die Switserse ingenieursfirma, ABB, gehelp het om ʼn lonende kontrak by die Kusile-kragstasie te kry. Solidariteit sê dis noodsaaklik dat Koko voor die hof verskyn.
# Die DA in die Wes-Kaap het sy oproep herhaal dat polisiëringsmagte in die provinsie afgewentel en die minister van Polisie, Bheki Cele, verwyder word. Syfers toon 116 van die Wes-Kaap se 151 polisiekantore het ʼn tekort aan personeel en slegs vyf se personeel is voltallig. ʼn DA-woordvoerder, Gillion Bosman, sê daar is tans net 15-duisend-327 operasionele polisielede by die provinsie se polisiekantore ontplooi terwyl die SAPD-wet ʼn minimum van 20-duisend voorskryf:
# Die Russiese president Vladimir Putin sê hy is gereed vir samesprekings om wat hy beskryf as die tragedie van oorlog in Oekraïne, te beëindig. Hy blameer egter ʼn wet van Kiëf wat samesprekings keer. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het in Oktober verlede jaar ʼn verordening onderteken wat amptelik verklaar enige samesprekings met Putin persoonlik is buite die kwessie, maar het die deur oopgelaat vir gesprekke met Rusland. Putin het aan die virtuele G20-vergadering wat deur die Indiese eerste minister Narendra Modi saamgeroep is, gesê Rusland het nog nooit geweier om vredesgesprekke met Oekraïne te voer nie.
# Rugby: Die Stormers sal probeer om ‘n vierde agtereenvolgende nederlaag af te weer op hul Verenigde Rugbykampioenskapstoer wanneer hulle môre vir Cardiff pak. Die Kaapstadse span maak gereed vir ‘n hoër as normale tempo teen die Walliese span, met die ontmoeting wat op Cardiff Arms Park se sintetiese 4G-oppervlak gespeel word. Die Stormers se hulpafrigter, Dawie Snyman, is vol vertroue hulle kan die tuisspan klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-378-dollar-87-sent. Die prys van goud is een-duisend-994-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….