Nuus 07:00
BULLETIN 22 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BRICS-leiers vra vir ‘n onmiddellike skietstilstand tussen Israel en Palestina
# Die Parlement sê Julius Malema en ander EFF-parlementslede moet verbied word om die 2024-staatsrede by te woon
# En, Oscar Pistorius bring dalk vir oulaas sy verjaarsdag agter tralies deur
# Die BRICS-nasies, Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika het ʼn onmiddellike, blywende en volgehoue humanitêre wapenstilstand gevra wat kan lei tot ʼn einde aan vyandighede tussen Israel en Palestina. Die groep se leiers het gister virtueel ʼn buitengewone vergadering gehou om die situasie in Gaza te bespreek. President Cyril Ramaphosa het tydens die vergadering gesê hulle vra die internasionale gemeenskap om dringend op te tree om die lyding in Gaza te beëindig:
# Die Parlement wil hê die EFF-leier Julius Malema, sy adjunk Floyd Shivambu en vier ander partylede moet verbied word om volgende jaar se staatsrede by te woon en moet vir tien dae geskors word. Die parlementêre Bevoegdhede-en-Voorregte-komitee het hulle skuldig bevind aan oortreding van die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite. Die EFF het vanjaar die speaker van die Nasionale Vergadering se opdrag om die saal te verlaat, geïgnoreer en op die verhoog gespring waar president Cyril Ramaphosa sy staatsrede sou lewer. Die komitee sal die twee sanksies oorweeg en vandag ʼn besluit neem.
# Oscar Pistorius word vandag 37 en die kanse is goed dat dit sy laaste verjaarsdag agter tralies sal wees. Die voormalige Paralimpiese kampioen verskyn Vrydag voor ‘n Paroolraad nadat hy meer as die helfte van sy vonnis uitgedien het vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, in sy huis in Pretoria in 2013. Hy is sedert 2016 in aanhouding. Tydens Pistorius se vorige paroolaansoek in Maart was daar twyfel oor die aanvangsdatum van sy vonnis, maar die Konstitusionele Hof het verlede maand beslis hy kom wel in aanmerking vir parool.
# Die Vryheidsfront Plus sê hy sal die Gautengse regering se plan teenstaan, om binne vier maande alle gevalle van kinderpleegsorg oor te neem. Anton Alberts van die party sê die provinsiale regering het met die Life Esidimeni-tragedie bewys hy is totaal onbevoeg om vir minderjariges en mense met gestremdhede te sorg. Hy sê hulle gaan ʼn griefskrif aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling stuur om te vra dat die plan laat vaar word. Hy sê indien die versoek geïgnoreer word, sal hulle ʼn klag by die Menseregtekommissie indien:
# Die IVP in KwaZulu-Natal vra dat die skuldiges aan die pen ry nadat die besnydenis van ‘n tienjarige seun by die KwaMashu Gemeenskapsgesondheidsentrum in Durban skeefgeloop het. Die seun is glo een van sewe kinders wat komplikasies opgedoen het ná die prosedure. Die IVP sê die LUR vir Gesondheid Nomagugu Simelane moenie langer hieroor swyg nie en diegene wat verantwoordelik is aanspreeklik hou. Die party sê daar moet meganismes in plek wees om pasiënte te beskerm en te verseker dat dokters oor die nodige vaardighede beskik om hul pligte uit te voer.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het alle transgender-atlete verbied om aan internasionale vrouekrieket deel te neem as hulle deur manlike puberteit gegaan het. Dit is volgens nuwe geslagsgelykheid-regulasies wat ingestel is. Danielle McGahey van Kanada het in September in ʼn Vroue-T20-wedstryd teen Brasilië die eerste transgender-krieketspeler geword om aan ʼn internasionale wedstryd deel te neem. Die krieketraad se uitvoerende hoof, Geoff Allardice, sê die nuwe beleid is om die vrouespel se integriteit te beskerm, asook vir veiligheid, regverdigheid en insluiting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-85-dollar-10-sent. Die prys van goud is een-duisend-995-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….