Nuus 07:00
BULLETIN 14 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is nie verbaas oor die kansellasie van die SAL-Takatso-transaksie nie
# Die hof beveel die polisie om te bewys vuurwapens is getoets voor vernietiging
# En rugby: Philip Snyman vervang Sandile Ngcobo as die Blitsbokke se hoofafrigter
# Die DA sê die regering, insluitend die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, moet aanspreeklik gehou word vir die mislukte Suid-Afrikaanse Lugdiens-Takatso Konsortium-transaksie. Die minister het gister aangekondig dat die verkoop van 51-persent aandele in die SAL aan Takatso gekanselleer is, met een van die struikelblokke, die behoefte om die bates van die lugdiens te herwaardeer. Mimmy Gondwe van die DA sê, hulle meen die regering het versuim om behoorlike omsigtigheid aan die dag te lê voordat hulle met verkooponderhandelings begin het:
# Die Amerikaanse adjunk-minister van Finansies, Wally Adeyemo, het Suid-Afrika aangemoedig om sy stryd teen korrupsie te verskerp, omdat dit ekonomiese vooruitgang en werkskepping belemmer. Adeyemo het by die Amerikaanse Kamer van Koophandel in Johannesburg gepraat en die behoefte aan verhoogde teenkorrupsiepogings, ‘n vinniger oorgang na hernubare energie en groei in die dienstesektor uitgelig. Adeyemo se besoek het ten doel om samewerking te versterk in die bekamping van onwettige handel in wild en bevordering van deursigtigheid. Hy het die regering aangemoedig om besluite te neem vir modernisering en om ekonomiese aansporings vir kritieke minerale-ontginning te skep.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Suid-Afrikaanse Polisiediens beveel om te bewys dat meer as 50-duisend vuurwapens wat tydens amnestie oorhandig of op beslag gelê is, getoets is en nie met misdade verbind is voor dit vernietig is nie. News24 berig hierdie uitspraak volg ná regstappe deur die Suid-Afrikaanse Agri-inisiatief, nadat die polisie toegang vir aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting geïgnoreer het. Die hof het die polisie 30 dae gegun om bewyse te lewer, ondanks hul argument dat die versoek ontydig en onnodig was.
# Die Arbeidshof het ‘n interdik toegestaan teen vandag se beplande staking van die metaalwerkersvakbond, NUMSA teen die Padongeluksfonds by die fonds se kantoor in Pretoria. Die staking ter ondersteuning van die vakbond se eise en griewe is verder onbeskermd verklaar ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge. NUMSA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê ondanks die interdik teen die staking, eis hulle steeds die bedanking van die uitvoerende hoof van die fonds, Collins Letsoalo:
# ActionSA in die Wes-Kaap sê bendes poog blatant om die lewering van dienste te ontwrig, veral by belangrike Kaapstadse infrastruktuurprojekte. Dit kom neer op ekonomiese sabotasie. Verlede week het kontrakteurs van die stad se vlagskip-behuisingsprojek van 500-miljoen-rand in Symphony Way, Delft, hul kontrak beëindig, as gevolg van die voortdurende afpersing en onrus in die omliggende gebied. ActionSA se premierskandidaat, Angela Sobey, sê hulle het lankal reeds hul kommer uitgespreek oor misdadige bendes wat eise te stel om as kontrakteurs aan boord te word, of om beskermingsgeld te ontvang.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Philip Snyman, is tot Juliemaand bevorder tot hoofafrigter van die Blitsbokke, in die plek van Sandile Ngcobo. Dit volg op heroorweging ná die onlangse teleurstellende uitslae van die Blitsbokke. Ngcobo is nou weer terug in sy rol as Sewes Akademie-afrigter. Die Springbok-sewes-span, wat in 12 van die vorige 16 Wêreld-sewesseisoene onder die voorste twee geëindig het, is tans sewende op die punteleer. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die korttermyn-behoeftes van die span is sodanig dat Snyman vir kontinuïteit die taak opgelê is om die Blitsbokke terug te kry op ‘n oorwinningspad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-137-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….