Nuus 06:00 (DGO) 9 Februarie
BULLETIN 9 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die einde van beurtkrag is binne bereik
# Beurtkrag skuif intussen op na fase vier
# En, vyf Amerikaanse seesoldate is dood toe hul helikopter in Kalifornië neergestort het
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is vol vertroue dat die ergste agter die rug is is en dat die einde van beurtkrag binne bereik is. Hy het gisteraand die Staatsrede in Kaapstad gelewer. Hy sê die regering het ‘n duidelike plan om beurtkrag te beëindig, wat met doelgerigte fokus deur die Nasionale Energiekrisiskomitee ingestel word. Hy het bygevoeg dat die energiesektor hervorm word om te verseker daar is nooit weer so ‘n krisis nie.
Ramaphosa sê verder die regering het afgelope vyf jaar daaraan gewerk om die ekonomie na ‘n dekade van stagnasie te laat herleef en dit teen plaaslike en globale skokke te beskerm. Hy sê hulle het danksy vyf Suid-Afrikaanse beleggingskonferensies 1,5-duisend-miljoen-rand in nuwe beleggingsverbintenisse ingesamel, waarvan meer as 500-miljard-rand reeds na die ekonomie gevloei het.
# Eskom het fase vier-beurtkrag ingestel tot verdere kennisgewing. Volgens die kragvoorsiener is twee bykomende opwekkingseenhede buite werking om herstel te word en bergingsdamme wat die oggend- en aandspitstyd voorsien moet aangevul word. Eskom sê stasiebestuurders werk hard om seker te maak die twee-duisend-473 megawatt opwekkingskapasiteit is Maandag weer gereed.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, vra wetstoepassingsagentskappe om seker te maak geregtigheid seëvier, na die dood van ‘n graad agt-leerder. Die seun van Oakdale Secondary School in Ennerdale is Woensdag dood toe hy na bewering buite die skoolperseel met ‘n skerp voorwerp gesteek is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê ‘n graad tien-seun, wat ook by die voorval betrokke was, is tans in die hospitaal.
# Vyf Amerikaanse seesoldate is dood toe hul helikopter tydens ‘n oefenvlug in Kalifornië neergestort het. Die Amerikaanse Mariene-korps sê die ongeluk het tydens ‘n hewige storm gebeur, en die helikopter het in ‘n afgeleë gebied naby San Diego neergestort. Dit het vanaf die Lugmagbasis Creech in Nevada vertrek op pad na Miramar, en is agt uur later as vermis aangemeld. Die soldate se liggame is tydens ‘n soek-en-reddingsoperasie gevind. ’n Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is tans aan die gang.
# Rugby: Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het net twee veranderings aan sy span aangebring wat teen Ierland verloor het in die eerste ronde van vanjaar se Sesnasies-reeks. Frankryk pak Skotland môre op Murrayfield in Edinburgh. Louis Bielle-Biarrey sal in die nommer 11-trui begin met Yoram Moefana wat bank toe skuif, terwyl Cameron Woki vir Paul Willemse op slot vervang. Die Suid-Afrikaans-gebore Willemse sal twee wedstryde misloop nadat hy ‘n rooikaart gekry het vir ‘n hoogvat op die Ierse stut Andrew Porter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-333-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….