Nuus 06:00 (DGO) 22 November
BULLETIN 22 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering aanvaar ‘n mosie om die Israelse ambassade in Suid-Afrika te sluit
# Eskom verhoog beurtkrag tot verdere kennisgewing na fase 4
# En, die Nasionale Vervolgingsgesag meld aansienlike vordering aan met die verwerking van staatskapingsake
# Lede van die Parlement het ten gunste van ‘n mosie gestem om die Israeliese ambassade in Suid-Afrika oor die Gaza-oorlog te sluit. Dit baan die weg vir die beëindiging van diplomatieke bande tussen die twee lande. Die mosie wat deur die EFF ingedien is, is deur 248 parlementslede ondersteun met 91 wat daarteen gestem het. Die ANC-hoofsweep, Pemmy Majodina, sê bande met Israel sal verbreek word totdat daar ‘n wapenstilstand is, en Israel homself verbind tot die Verenigde Nasies se vredesonderhandelinge.
# Eskom sê hy moes om 2:30 vanoggend noodgedwonge fase vier-beurtkrag instel. Hy sê daar is te min noodvoorraad en opwekkingsvermoë omdat vier eenhede nie volgens beplanning weer by die kragnetwerk ingeskakel kon word nie. Fase vier sal tot verdere kennisgewing van krag bly.
# Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, het ‘n streng waarskuwing gerig aan studente wat probeer om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te bedrieg. Hy het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor die opening van aansoeke vir die 2024 akademiese jaar. Nzimande sê verskeie studente wat nie finansieringsbystand benodig om verder te studeer nie, het fondse misbruik en uitgeput wat die armes moes bevoordeel. Hy sê daar sal swaar gevolge wees vir diegene wat aanhou om dit te doen.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag meld aansienlike vordering met die verwerking van staatskapingsake wat uit die Zondo-kommissie spruit. Die adjunk-Nasionale Direkteur van Vervolging, Rodney de Kock, verwerp bewerings van stadige vervolging en sê meer sake sal geopen word wanneer die Ondersoekdirektoraat volgende jaar ‘n permanente instelling word. Die NVG moet meer as 200 aanbevelings in werking stel. Volgens De Kock is die NVG daartoe verbind om ingewikkelde korrupsiesake te ondersoek om sodoende openbare vertroue in hul pogings te kweek. Die ID het tans 34 staatskapingsake op die hofrol.
# Rugby: Die Springbok-stut Steven Kitshoff kan Saterdag sy debuut vir Ulster maak in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Glasgow Warriors in Skotland. Hy het Maandag na ʼn welverdiende blaaskans by die Ierse span aangesluit, nadat Suid-Afrika die Wêreldbeker vir ʼn rekord vierde keer verower het. Kitshoff het die Stormers verlaat nadat hy die Kaapse span tot twee agtereenvolgende eindstryde in die VRK aangevoer het. Ulster is tans derde op die punteleer nadat hulle tot dusver hierdie seisoen net een van hulle vyf wedstryde verloor het. Glasgow, wat afgerig word deur die voormalige Springbok Franco Smith, is in die tweede plek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-182-dollar-12-sent. Die prys van goud is een-duisend-997-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-54-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die BBC het bekendgemaak die gewilde motorprogram, Top Gear, sal nie in die afsienbare toekoms terugkeer nie. Produksie is onderbreek nadat die aanbieder, Andrew Flintoff, in Desember verlede jaar ernstig beseer is in ‘n ongeluk tydens verfilming. Die voormalige Engelse krieketkaptein was daarna vir nege maande uit die openbare oog en het met sy terugkeer steeds duidelik waarneembare gesigsbeserings gehad. Die uitsaaier sê hy besef aanhangers sal teleurgesteld wees, maar hulle is oortuig van hulle besluit. Daar is vroeër berig die BBC het ‘n finansiële skikking van 207-miljoen-rand met Flintoff bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….