Follow Us
News Headlines 05:30
Mon 15th Nov 2021
Nuus 06:00
Mon 15th Nov 2021
Print Friendly, PDF & Email

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 6 vm

Goeiemôre,

In die bulletin:

# Die regering onttrek sy steun vir Mej SA se deelname aan die Mej Heelal-kompetisie in Israel
# Die Australiese krieketspan wen sy eerste T20 Wêreldbeker-titel
# En, ‘n privaat begrafnis en verassing vir FW de Klerk sal Sondag plaasvind

# Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, sê dit was moeilik om die organiseerders van die Mej SA-kompetisie te oorreed om deelname aan die Mej Heelal-kompetisie volgende maand in Israel, te heroorweeg. Die Human Rights Watch beskuldig dié Midde-Oosterse land van misdade teen die mensdom in sy konflik met die Palestyne. Minister Nathi Mthethwa sê die gruweldade wat Israel teen Palestina gepleeg het, is goed gedokumenteer. Hy sê die regering, as die wettige verteenwoordiger van die mense van Suid-Afrika, kan hom nie met ‘n skoon gewete daarmee vereenselwig nie.

# Ontevrede ANC-personeellede gaan vandag buite die party se hoofkwartier, Luthuli-huis, in Gauteng oor salarisse betoog. Hulle maak beswaar teen die laat betaling van salarisse en die ANC se beweerde versuim om mediese fonds- en voorsorgfondsbydraes te betaal. Die werknemers-verteenwoordiger, Mvusi Mdala, sê die party se tesourier-generaal, Paul Mashatile, het versuim om hulle te ontmoet en hul griewe te bespreek. Die ANC sukkel nou al maande lank om weens kontantvloeiprobleme personeel se salarisse betyds te betaal.

# Die 54-uur-wateronderbrekings wat van vandag tot Woensdag in dele van Gauteng sal voorkom, is ‘n aanduiding van ‘n goed-bestuurde operasie wat fokus op verbeterings en instandhouding om kapasiteit te verbeter. Dit is die mening van Prof Anthony Turton van die Sentrum vir Omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Rand Water gaan werk aan ‘n pyp vir onbehandelde water wat die Vereeniging watersuiweringsaanleg voorsien. Turton het aan TimesLive gesê indien die onderbreking van 54-uur nie goed bestuur word nie, kan dit katastrofies wees, veral in digbevolkte woonstelblokke.

# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê Cop26 het die boustene vir vordering gelê, maar daar is baie meer wat gedoen moet word. Byna 200 lande het in Glasgow ‘n klimaatsooreenkoms aangegaan. Ingevolge die ooreenkoms sal lande volgende jaar byeenkom om hulle  tot nog koolstofbesnoeiings te verbind met die doel om die doelwit van 1,5-grade Celsius te bereik. Die ooreenkoms sal ook die uitfasering van steenkool- en fossielbrandstofsubsidies versnel en die befondsing verdubbel vir ontwikkelende lande, om teen 2025 by klimaatsverandering aan te pas.

# Krieket: Australië het Nieu-Seeland in Dubai met agt paaltjies verslaan en sy eerste T20 Wêreldbeker-titel ingepalm. Die Swartpette het 172 vir vier in hul 20 boulbeurte aangeteken met kaptein Kane Williamson wat 85 lopies van 48 balle gemoker het. Josh Hazlewood het drie paaltjies platgetrek. In antwoord hierop het David Warner en Mitchell Marsh ‘n vennootskap van 92 lopies om die tweede paaltjie aangeteken, wat die weg gebaan het vir Australië se oorwinning. Die Australiese kolwer Steve Smith sê hulle het lank en hard gewerk en dit is ‘n eer om die trofee huis toe te neem.

# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-28-sent teen die dollar, 17-rand-51-sent teen die euro en 20-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-856-dollar-9-sent. Die prys van goud is een duisend-859-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-55-sent per vat.

# En om mee af te sluit, wyle FW de Klerk se begrafnis en verassing vind Sondag plaas. Die 85-jarige oud-president  is Donderdag oorlede ná ‘n stryd met kanker. Die FW de Klerk-stigting sê die begrafnis sal ‘n privaat seremonie vir familielede wees en nie vir die media oop wees nie. De Klerk was die laaste president tydens die apartheidsera. Hy het in 1990 opdrag gegee dat Nelson Mandela ná 27 jaar in die tronk vrygelaat word. Mandela en De Klerk het drie jaar later die Nobelprys vir Vrede gedeel vir hulle rol in die vreedsame oorgang na demokrasie.

Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….

Our team is here to answer your questions. Editorial questions? Chat to the Editor on duty Free Trial or general questions? Chat to Debbie Technical issues? Chat to our Tekkie
WeCreativez WhatsApp Support
Free Trial / General Enquiries
Debbie Oosthuizen: GM
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Peet Bothma
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Andries Cornelissen
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Lusanda Bill
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Technical Support
Tekkie
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Mariana Vos
Away