Nuus 06:00
BULLETIN 2 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Phaahla sal vandag ondersoek instel na die repatriasie van die liggame van slagoffers van ‘n busongeluk in Limpopo
# Vandag is die sperdatum vir partye en kandidate om by die Verkiesingshof te appelleer teen besware
# En motorsport: Die F1-eienaar Liberty Media koop MotoGP
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sal vandag ondersoek instel na die vordering van die Limpopo-gesondheidsowerhede met die identifikasie en repatriasie van die slagoffers van ‘n busongeluk. Vyf-en-veertig mense is dood toe ‘n bus op pad van Botswana af na Moria verlede Donderdag by die Mmamatlakala-brug op die R518 in Limpopo in ‘n ongeluk betrokke was. ‘n Woordvoerder van die Departement van Gesondheid, Foster Mohale, sê ‘n agtjarige kind, wat ernstig beseer is, was die enigste oorlewende:
# Politieke partye of kandidate, insluitend oud-president Jacob Zuma, wat ontevrede is oor besware vir die 29 Mei-verkiesing, kan vandag in die Verkiesingshof appelleer. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het 82 besware ontvang teen kandidate wat deur 21 politieke partye benoem is. Altesaam 31 besware teen agt kandidate voer aan hulle kwalifiseer nie, weens kriminele rekords en óf skuldigbevindings. Die OVK het ook ‘n beswaar gehandhaaf teen Zuma van die uMkhonto weSizwe Party se deelname aan die verkiesing.
# Die Verkeerspolisie in Gauteng sal padgebruikers en voetgangers steeds monitor aangesien skole eers Woensdag vir die tweede kwartaal heropen. Dit is om te verseker daar is geen bontlopery nie en motoriste hou by die voorgeskrewe snelheidsperk. Twintig mense is sedert Donderdagmiddag op Gautengse paaie dood. Die woordvoerder van die polisie, Sello Maremane, raai motoriste aan om steeds versigtig te bestuur deur padreëls en -regulasies te gehoorsaam en om te verseker hulle voertuie is padwaardig:
# Die Amerikaanse veroordeelde moordenaar, Alex Murdaugh, is tot 40 jaar tronkstraf gevonnis vir federale finansiële misdade. Hy het in September verlede jaar skuldig gepleit op 22 aanklagte, waaronder sameswering om bankbedrog en geldwassery te pleeg. Die 55-jarige prokureur dien reeds ‘n lewenslange vonnis sonder parool uit vir die moord op sy vrou en seun, én ‘n vonnis van 27 jaar vir ander finansiële misdade. Murdaugh het teen die moordvonnis geappelleer en hou vol hy is onskuldig.
# Motorsport: Die Formule Een-eienaar, Liberty Media het ingestem om die motorfietsreeks MotoGP te koop in ‘n transaksie wat sowat 68-miljard-rand beloop. Die Amerikaanse maatskappy sal ongeveer ‘n 86-persent-belang verkry van die Spaanse eienaars, Dorna Sports, wat MotoGP sedert 1992 besit. Die transaksie sal na verwagting teen die einde van vanjaar afgehandel wees, onderhewig aan die goedkeuring van regsowerhede. Liberty Media se president en uitvoerende hoof, Greg Maffei, sê hulle beoog om MotoGP verder te ontwikkel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-512-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-248-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC-vroueliga gedenk vandag ses jaar sedert die dood van die struggle-ikoon, Winnie Madikizela-Mandela. Die president van die liga, Sisisi Tolashe, sal die geleentheid met ‘n kranslegging by Fourways Memorial-park lei, asook ‘n kers-seremonie en ‘n gebedsdiens in Orlando-Wes, Soweto bywoon. Die woordvoerder van die Vroueliga, Sarah Mokwebo, sê Winnie Mandela was ‘n dapper leier en onwrikbare voorstander van geregtigheid. Sy bly ‘n simbool van krag en bemagtiging vir vroue en onderdruktes; nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….