Nuus 06:00
BULLETIN 28 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se ekonomie vaar swakker as wat verwag is, met slegs 0,1% groei
# Eskom staak beurtkrag oor die Paasnaweek
# En Olimpiese Spele: Die koste om die Parys-spele aan te bied, styg steeds
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die land se ekonomie het in die vierde kwartaal van verlede jaar met slegs 0,1-persent gegroei en nie aan verwagtinge voldoen nie. Hierdie swak prestasie word toegeskryf aan uitdagings aan die aanbodkant, veral ernstige beurtkrag, wat kwesbaarheid in die ekonomie beklemtoon. Kganyago het op ‘n nuuskonferensie gesê die teleurstellende groei wek kommer oor die ekonomie se veerkragtigheid en sy vermoë om te herstel ná terugslae, wat verskeie sektore beïnvloed en moontlik breër ekonomiese verbeterings vertraag:
# Eskom het die opskorting van beurtkrag oor die Paasnaweek aangekondig. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê opdatering vir volgende week sal Sondagmiddag verskaf word, en enige ander beduidende veranderings sal betyds deurgegee word:
# Die Vryheidsfront Plus sê onteiening sonder vergoeding sal dit wat van Suid-Afrika oorgebly het ná 30 jaar onder ANC-bewind totaal vernietig. Die party het die Onteieningswetsontwerp opnuut in die Nasionale Vergadering verwerp, nadat die Nasionale Raad van Provinsies dit met wysigings terugverwys het. Een van die oogmerke van die wetsontwerp is om grond en eiendom in belang van die publiek te onteien. Die VF Plus sê die wysigings hou meestal net verband met taal- en ander klein veranderings, daarom bly dit ongrondwetlik.
# Rand Water sê AfriForum se hofaksie het misluk om te keer dat hy watertoevoer verminder na sewe munisipaliteite wat hom meer as drie-miljard-rand skuld. AfriForum het in sy aansoek die Hooggeregshof in Pretoria gevra om die watervoorsiener te beveel om volle watertoevoer na die munisipaliteite te herstel. Hy het aangevoer die besluit om die toevoer te verminder het ‘n verreikende uitwerking op gemeenskappe. Die munisipaliteite is in Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga. Rand Water sê hy verwelkom die uitspraak aangesien die skuld van die munisipaliteite teen ‘n vinnige tempo toeneem.
# Die goewerneur van Maryland, Wes Moore sê die topprioriteit is om die liggame van die ses mense te herwin wat vermoedelik dood is ná die ineenstorting van die Francis Scott Key-brug in Baltimore. ’n Vragskip het vroeg Dinsdagoggend ’n pilaar van die brug getref en dit laat ineenstort. Die stad Baltimore is steeds in ‘n noodtoestand. Moore sê hy kon tyd deurbring saam met die familielede van die konstruksiewerkers wat op die brug was ten tyde van die ineenstorting:
# Olimpiese Spele : Die koste om vanjaar se Spele in Parys aan te bied bly styg, met ouditeure wat verwag dit sal tussen 60- en 100-miljard-rand beloop. Aan die begin van verlede jaar het beramings gestaan op 60-miljard-rand, na ‘n aanvanklike bedrag van 49-miljard-rand. eNCA berig ‘n 2020-studie deur die Oxford-universiteit het bevind elke Somerspele sedert 1960 het die aanvanklike begroting twee- of drie keer oorskry, met Montreal en Rio de Janeiro wat byna bankrot gelaat is deur die onderskeie Spele in 1976 en 2016.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-507-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-189-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….