Nuus 06:00
BULLETIN 30 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê president Ramaphosa sal behoorlik dink voor hy die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering onderteken
# Die minister van Polisie verwelkom die 12-jaar vonnis vir een van die aanstigters van die Julie 2021 burgerlike onrus
# En, die dodetal in die ongeluk by die Impala Platinum-myn styg tot 12
# Die Presidensie het diegene wat bekommerd is oor die grondwetlikheid van die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering die versekering gegee dat president Cyril Ramaphosa nie net goedsmoeds ‘n rubberstempel op die Parlement se werk sal plaas nie. Die Nasionale Raad van Provinsies sou aanvanklik gister oor die wetsontwerp stem, maar dit is tot volgende week Woensdag uitgestel. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê sodra die wetsontwerp goedgekeur is, het die president steeds ‘n grondwetlike plig om seker te maak alle prosesse is gevolg voordat hy die wet onderteken.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, het die vonnisoplegging van een van die aanstigters van die burgerlike onrus in Julie 2021 verwelkom. Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het Mdumiseni Zuma tot 12 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee jaar opgeskort is. Hy is in September skuldig bevind op aanklagte van openbare geweld en aanhitsing om brandstigting te pleeg. Die aanklagte word verbind met die wydverspreide plundery en vernietiging wat tydens die onrus by die Brookside Winkelsentrum in Pietermaritzburg plaasgevind het. Cele sê hy hoop meer opstokers sal gevonnis word:
# ’n Twaalfde mynwerker is dood ná Maandag se ongeluk by die Impala Platinum-myn in Rustenburg in Noordwes. Hy was in ’n bedenklike toestand in die hospitaal en is gister oorlede. Vier-en-sewentig ander mynwerkers is steeds in die hospitaal met beserings wat wissel van gering tot ernstig. Die dodelike ongeluk het plaasgevind toe ‘n hysbak wat werkers vervoer het, weens ‘n meganiese fout tot op die bodem van die skag gestort het. Die Impala Platinum-myn sê hy sal die families met die begrafniskoste ondersteun.
# Floyd Brink is ná ’n raadsvergadering agter geslote deure gister heraangestel as Johannesburg se stadsbestuurder. Die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg het op die sewende van hierdie maand sy aanstelling as ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Waarnemende regter Steven Budlender het beslis die wyse waarop oudspeaker Colleen Makhubele die mosie voorgelê het om Brink aan te stel problematies was. Stadswoordvoerder Virgil James sê Brink is heraangestel nadat die raad behoorlike prosesse gevolg het, wat die eerste keer nie gedoen is nie.
# ‘n Senior afvaardiging van Hamas het in Suid-Afrika aangekom vir die vyfde globale konvensie van solidariteit met Palestina. Die groep wil met politieke partye, burgerlike samelewingsgroepe en die Palestynse Solidariteitsbeweging praat en verslag doen oor Israel se optrede in Gaza. Die konvensie word gereël deur die Globale Veldtog vir Terugkeer na Palestina en die Koninklike Huis van Mandela, en val saam met die tiende herdenking van die internasionale veldtog en die dood van Nelson Mandela. Die geleentheid duur van Saterdag tot Dinsdag en fokus daarop om rassisme tot bevryding teen te staan.
# Gholf: Daar word dié week geskiedenis gemaak wanneer die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Ope vandag op die Blair Atholl Gholf- en Perdry-landgoed afslaan. Dit is die langste baan waarop nog in die DP World-toer gespeel is. Die syfer-72-baan van sewe-duisend-528-meter is deur die plaaslike gholfheld, Gary Player, ontwerp en sal na verwagting ‘n strawwe toets wees, veral omdat warm weer verwag word. Dit is ‘n sterk veld met verskeie voormalige kampioene, insluitend Brandon Stone:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-752-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-45-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….