Nuus 06:00
BULLETIN 28 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek inligting van Eskom oor beweerde misleidende beurtkrag-skedules
# Liezel de Jager se man word amptelik van haar moord aangekla
# En, Israel en Hamas verleng die humanitêre wapenstilstand met ‘n verdere twee dae
# Die DA het inligting van Eskom se stelsel-operateur versoek oor beweerde misleidende beurtkragskedules. Die party bevraagteken Eskom se voldoening aan die nasionale bedryfskodes vir beurtkrag en is bekommerd oor moontlike skendings. Die DA vra ‘n ondersoek om te bepaal of die kragvoorsiener opsetlik afwyk van regulasies, en of sulke optrede ‘n uitwerking op verbruikers het. Woordvoerder Samantha Graham-Maré sê nywerheids-kenners wys daarop dat 12-uur beurtkrag per dag in sommige gebiede neerkom op fase agt terwyl Eskom beweer dis fase ses:
# Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing se bevindings oor die Sesde Suid-Afrikaanse Nasionale MIV-voorkoms-, Teenwoordigheids- en Gedragsopname toon ‘n positiewe trajek in die stryd teen MIV. Die opname toon ‘n prysenswaardige afname in MIV-voorkoms van 14-persent in 2017 tot 12,7-persent verlede jaar, wat ooreenstem met UNAIDS se teikens. Sleutelhoogtepunte sluit in ‘n 90-persent bewustheid rondom MIV-status onder diegene van 15-jaar en ouer, met 91-persent wat op antiretrovirale behandeling is en 94-persent wat virale ladingonderdrukking bereik. Ten spyte van die vordering, duur streeks- en demografiese ongelykhede voort, wat deurlopende samewerkingspogings vereis.
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n bevel uitgereik dat die Stad Johannesburg binne drie maande die lewensomstandighede van slagoffers van die brand in Marshalltown moet verbeter. Die oorlewendes, wat drie maande gelede haweloos gelaat is deur die dodelike brand, is na tydelike skuilings in Denver verskuif. Die hofbevel beveel die aanbring van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters, bykomende toiletgeriewe, vier staanpype en nog 20 sanitasiegeriewe wat weekliks gediens word. Die munisipaliteit word ook aangesê om ‘n sekerheidsmaatskappy aan te stel om grondbesettings op die terrein te voorkom.
# Die man van die NG Kerk Suidkus-predikant Liezel de Jager is amptelik van haar moord aangekla. Werner de Jager het gister in die Amanzimtoti-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn waar die saak tot die sewende van volgende maand uitgestel is. Die 38-jarige De Jager is verwurg en haar lyk is in Oktober 2021 in die oprit van haar huis in Amanzimtoti gevind. Ian Cameron van Action Society sê hulle hoop geregtigheid geskied en dat die hofproses vinnig afgehandel word:
# Die militante groep Hamas het bevestig dat hy ingestem het om die vier dae lange tydelike humanitêre wapenstilstand met Israel met ‘n verdere twee dae te verleng. Die aanvanklike wapenstilstand het gister verstryk. Tydens die vier dae is ‘n totaal van 69 gyselaars, hoofsaaklik vroue en kinders vrygelaat, met Israel wat 150 Palestynse gevangenes bevry het. Hamas sê die verlenging van die wapenstilstand is onder dieselfde voorwaardes as die vorige vier dae. Katar, wat die samesprekings tussen Israel en Hamas bemiddel het, het die verlenging verwelkom.
# Rugby: Die Springbokke Manie Libbok en Damian Willemse keer terug na die Stormers vir hierdie naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Zebre in Stellenbosch. Die Kaapse span, wat die beker in die 2021/22-seisoen gebuit het en naaswenners was die volgende jaar, is tans in die 12de plek op die punteleer nadat hulle al vier wedstryde op hulle Europese toer verloor het. Volgens afrigter John Dobson mag die stut Frans Malherbe en die veelsydige voorspeler Deon Fourie dalk ook die naweek beskikbaar wees. Fourie mag moontlik later aansluit nadat sy pa dood is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-198-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-and-15-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….