Nuus 06:00
BULLETIN 27 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê daar kan ononderbroke elektrisiteitstoevoer in Desember wees
# Eskom se uitvoerende hoof verwelkom die kragvoorsiener se beter kredietgradering deur Standard and Poor
# En, Joe Biden wil hê die wapenstilstand moet verleng word namate Hamas meer gyselaars vrylaat
# Die minister van Elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa, sê die land sal waarskynlik in Desember ononderbroke elektrisiteitstoevoer kan geniet. Dit is ten spyte van fase ses wat verlede week van toepassing was. Hy sê werk is aan die gang om twee opwekkingseenhede by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga binne die volgende paar weke weer in gebruik te neem. Ramokgopa het herhaal dat indien Eskom ’n bykomende buffer bou, die land minder geneig sal wees tot groot wisselings in beurtkragfases:
Eskom se waarnemende uitvoerende hoof, Calib Cassim, het intussen Standard and Poor’s Global Ratings se besluit verwelkom om die kragvoorsiener se kredietgradering te verhoog. Eskom se kredietgradering is van CCC+ tot B verhoog. Alhoewel dit steeds vyf vlakke onder rommelstatus is, is die vooruitsig stabiel. Die kredietgraderingsagentskap sê die regering se 254-miljard-rand finansiële ondersteuningspakket sal help om Eskom se skuldverpligtinge vir die huidige en die volgende twee boekjare te dek. Cassim sê hulle werk steeds saam met sleutelbelanghebbendes om die omkeerplan te in werking te stel, met die fokus op bedryfs- en finansiële herstel.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party se vernuwing sal nie ondermyn en gestop word deur diegene wat nie in pas is met sy grondwetlike prosesse asook die hernuwingsproses nie. Mbalula het afgevaardigdes by die Sanco nasionale konferensie in Durban, KwaZulu-Natal, toegespreek. Hy sê hulle het na ‘n ANC nasionale konferensie gegaan om radikale beleidsrigtings te aanvaar en in die konferensie het hulle ook beleidsrigtings aanvaar wat beslissend met korrupsie afreken:
# Die Stad Ekurhuleni sê die hoë voorkoms van geslagsgeweld plaas steeds ‘n swaar las op die gesondheid- en strafregstelsel. Die 16 dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders het Saterdag begin. Die Departement van Justisie hanteer elke jaar minstens 50-duisend sake wat verband hou met geslagsgeweld en byna een-duisend moordsake per jaar. Burgemeester Sivuyile Ngodwana het beklemtoon dat mans ‘n kritieke rol speel in die 16 Dae van Aktivisme-veldtog, beide as slagoffers en ook as oortreders.
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê sy regering se doelwit is om die vier dae lange wapenstilstand tussen Israel en Hamas te verleng sodat meer gyselaars veilig vrygelaat en kritieke hulp gelewer kan word. Die Israelse weermag het bevestig dat Hamas gisteraand 17 gyselaars vrygelaat het. Onder hulle is die vierjarige Abigail Edan, met dubbele Amerikaanse en Israeliese burgerskap. In ruil vir die Israeli’s is nog 39 Palestynse gevangenes wat in Israel aangehou is, vrygelaat. Biden sê ‘n tweestaat-oplossing is die enigste manier om die langtermyn-veiligheid van inwoners van beide Israel en Palestina te waarborg.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het die Joburg Ope by die Houghton-gholfklub met drie houe gewen en daarmee sy derde Europese toertitel ingepalm. Hy het oor die laaste ses putjies drie voëltjies geslaan om ‘n onberispelike ses onder baansyfer 64 te behaal, met ‘n finale telling van 18 onder baansyfer. Sy landgenoot, Darren Fichardt, het met 64 sy beste ronde van die toernooi gespeel, en tweede geëindig. Die verdedigende kampioen, Dan Bradbury van Engeland, het derde geëindig met ‘n laaste ronde-telling van 64 ondanks drie brouhoue. Al drie het danksy hulle vertonings plek in die 2024 Ope Kampioenskap by Royal Troon verdien. Burmester sê dis is spesiaal om ‘n titel by die huis te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-505-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-7-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….