Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die LP’s van die MK-party wat afgedank is, beweer hulle is uit die Parlement verwyder om plek te maak vir EFF-oorlopers, insluitend die voormalige EFF-adjunkpresident Floyd Shivambu. Tien van die 18 afgedankte LP’s het die hof genader om te vra dat hul parlementêre posisies herstel word en dat die Parlement verbied word om hul plaasvervangers in te sweer.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die 95 Libiese burgers wat die land ingekom het om militêre opleiding te ontvang. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber sê die probleme wat ingesluip het met die uitreik van visums hou ‘n ernstige gevaar vir landsveiligheid in.
En tweedens is daar ‘n berig oor ‘n gewilde onthaalplek, die Bubbles Champagne Garden in Hartbeespoort wat in puin gelê is deur ‘n brand. Die polisie ondersoek brandstigting.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die gevaar wat die gebrekkige prosesse by Binnelandse Sake vir landsveiligheid inhou.
En berig die parlementêre komitee oor Binnelandse Sake het onthul die Valke het die vrou opgespoor by wie die voormalige Mej SA-kandidaat, Chidimma Adetshinase se ma glo haar identiteit gesteel het.
# Sowetan:
Berig ook oor Schreiber se kommer oor die omvang van die gebreke in die visumaansoeke van die Libiërs.
# En The Citizen:
Skryf belastingbetalers wat die onwettige verhoogde kragtarief betaal het, kan moontlik ‘n terugbetaling ontvang.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die liggame van ‘n egpaar van Upington, Jasper en Nicolene van der Westhuizen, is met skietwonde in hul huis aangetref. Die polisie sê geen misdaad word in die stadium vermoed nie.
Tweedens skryf die koerant oor die nou band tussen ‘n donkie en ‘n springbok by Winburg se DBV.
En laastens is daar nuus oor die laaste dag van die Caledonse moordslagoffer, Deveney Nel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig in besonderhede oor Deveney Nel se laaste dag. Dit blyk dat sy kort na twee-uur die middag op 7 Augustus vermoor is, pas nadat die skoolklok gelui het. Volgens die koerant het die 17-jarige seun wat in verband met die moord in hegtenis geneem is, haar foon ná haar dood gebel.
Die koerant skryf ook oor die redes hoekom die verdagte nie geïdentifiseer mag word nie.
Dan word berig die wêreld se oudste mens, die 117-jarige Maria Branyas Morera van Spanje, is in haar slaap oorlede.
En laastens skryf die koerant die Hooggeregshof het bepaal skenkings aan politieke partye moet beperkings hê totdat wetgewing in die verband aanvaar word.
# En Cape Times:
Skryf amptenare by Binnelandse Sake het moontlik die Libiërs gehelp om die land in te kom.
En berig die Konstitusionele Hof sal uitsluitsel moet gee oor die magte van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig in grusame detail oor hoe ‘n vrou van Gqeberha moes toekyk hoe haar kêrel en familie deur gewapende mans afgemaai word.
En tweedens skryf die koerant die Uitenhage en Distrik Taxivereniging gaan al sy voertuie merk sodat onwettige taxi’s geïdentifiseer kan word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Indiese motorvervaardiger, Mahindra gaan ‘n aanleg by Tradeport noord van Durban oprig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die pa van een van die slagoffers van die ongeluk wat Jandré Dippenaar in Desember 2014 veroorsaak het, het in die hof getuig hy sal Dippenaar nooit vergewe vir die dood van sy seun, JC Horn, nie.
En tweedens skryf die koerant hoewel geen gevalle van a-pokke tot op hede in Namibië aangeteken is nie, het die toerismebedryf reeds kansellasies deur toeriste opgemerk.