Nuus 9:00
BULLETIN 14 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# POPCRU eis ‘n ondersoek na diskriminerende praktyke binne die SAPD-opleidingskolleges
# Families sê Netanyahu is die enigste struikelblok wat verhoed dat gyselaars huistoe kom
# En, die Leeus en Griekwas is deur na die Curriebekereinstryd
# Die polisie- en gevangenisdiensvakbond, POPCRU eis ‘n dringende ondersoek na die diskriminerende praktyke by SAPD-opleidingskolleges regoor die land. POPCRU se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die afdelingskommissaris vir opleiding, Bongiwe Zulu, het in Bisho, in die Oos-Kaap vyf lede aan opleiding onttrek bloot op grond van hul gestremdheid. Hy sê POPCRU is verder ontsteld oor die feit dat Zulu ook studente onttrek op grond van tatoeëermerke:
# Die DA sê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het haarself en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag weerspreek oor die troepefonds van 813-miljoen-rand. Nicholas Gotsell van die party sê in haar jongste skriftelike antwoord op ‘n parlementêre vraag het sy ook haarself en die SANW-topleiers weerspreek oor die sukkelende departement se finansiële wanbestuurskrisis:
# Eskom sê hy lewer steeds betroubare krag aan Suid-Afrika. Die woordvoerder van die nutsmaatskappy, Daphne Mokwena, sê onbeplande verliese as gevolg van onderbrekings is steeds daadwerklik onder die tienduisend-megawatt-drempel, naamlik seweduisend-394-megawatt. Sy sê dit weerspieël volgehoue strukturele verbeterings in aanlegprestasie, gedryf deur die voortdurende toepassing van die opwekkingsherstelplan:
# Die families van Israelse gyselaars wat nog deur Hamas aangehou word, sê eerste minister, Benjamin Netanyahu, is die “een struikelblok” wat hulle terugkeer en ‘n vredesooreenkoms verhoed. Die forum vir die families van gyselaars en vermiste persone het op sosialemedia gesê Israel se aanval verlede week op Katar wys dat elke moontlike ooreenkoms deur Netanyahu gekelder word. Netanyahu het Saterdag gesê die uitwissing van Hamasleiers in Katar verwyder die grootste struikelblok om die gyselaars vry te laat en die oorlog te beeïndig. Die families het sy reaksie egter beskryf as die nuutste verskoning om te verhoed dat hul geliefdes terugkeer.
Rugby: Die Griekwas reis Saterdag na Johannesburg om in hulle tweede Curriebekereindstryd in vier jaar te speel, nadat hulle die Cheetahs in hulle kwarteindrondewedstryd in Kimberley met 25-5 verslaan het. Die vleuel, Dylan Maart, het twee drieë gedruk wat uiteindelik deurslaggewend vir die Griekwas was. Albert Leibenberg het die tuisspan se ander drie gedruk, met George Whitehead wat met twee doelskoppe en twee strafskoppe geslaag het. Die Cheetahs se enigste punte was ‘n drie deur Prince Nkimande.
Die Leeus het vroeër Saterdag die eindstryd bereik met ‘n verwoestende oorwinning van 67-19 oor die Boland Kavaliers op Ellispark in Johannesburg. Angelo Davids was die held van die wedstryd met vier drieë, terwyl Henco van Wyk twee keer agter die doellyn was. SJ Kotze en Quan Horn het elk ‘n drie aangeteken en Boland Kavaliers het ook ‘n strafdrie afgestaan. Chris Smith het met ses doelskoppe en ‘n strafskop geslaag. Drieë deur Sidney Tobias, Jayden Bantom en Chriswill September met doelskoppe deur James Tedder en Juan Mostert, het die telbord ietwat beter laat lyk vir die Boland Kavaliers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….