Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA versoek die nuwe kabinet om die uiteenlopende beleidsomgewings te versoen
# AfriForum vra samewerking met die minister van Water en Sanitasie
# En, krieket: ACDP vra alle Suid-Afrikaners om steeds die Proteas te steun
# TLU SA doen ‘n beroep op die nuwe kabinet om die uiteenlopende beleidsomgewings en sienings van die verlede rondom die regte beginsels te versoen, en te verseker die nodige vertroue word verkry vir beleggings sodat die ekonomie kan groei. Die landbou-organisasie se uitvoerende hoof, Bennie van Zyl, sê dit is van kardinale belang om duidelikheid te kry oor hoe kwessies soos onteiening sonder vergoeding hanteer gaan word. Hy het die aanstelling van John Steenhuisen as die minister van Landbou verwelkom:
AfriForum vra intussen samewerking tussen belanghebbers om minister Pemmy Majodina by te staan om dringende probleme met water en sanitasie aan te pak. Die bestuurder van Omgewingsake, Lambert de Klerk, wys op die kritieke stand van die departement, wat sterk leierskap en snel reaksie vereis. Hy het dit duidelik gemaak AfriForum is oorgehaal om sy kant te bring om uitdagings met water die hoof te bied en terselfdertyd volhoubare oplossing aan te bied:
# Die familie van die Amerikaanse president, Joe Biden, versoek hom om nie te onttrek aan die verkiesingsveldtog nie. Skenkers bespreek glo die moontlikhede na sy rampspoedige vertoning in verlede week se eerste televisiedebat teen Donald Trump. Sy vrou, Jill, en seun, Hunter, hou albei vol hy moet in die wedloop bly aangesien hy in die beste posisie is om Trump te verslaan. Die res van die familie stem saam en glo sy raadgewers het hom nie behoorlik voorberei nie. Biden se veldtogbestuurders glo hy kan steeds die verkiesing in November wen.
# Krieket: Die ACDP moedig alle Suid-Afrikaners aan om steeds die nasionale span te steun in elke wedstryd wat hulle laat vorder na die volgende groot toernooi. Die Proteas het in die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi tot die bitter einde alles in die stryd gewerp teen ‘n taai en vasberade Indiese span en uiteindelik met sewe lopies verloor. Die ACDP sê hulle het kragte gemeet met die wêreld se heel beste, en hulle briljante spangees, vasbytvermoë en dapperheid regdeur die toernooi bewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-616-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: Die Trek4Mandela sal hierdie Julie 30-jaar van Suid-Afrikaanse demokrasie met ‘n unieke reis van ses roetes herdenk. Elke roete verteenwoordig ‘n kleur van die Suid-Afrikaanse vlag, en eindig dan op die kruin van die berg Kilimanjaro. Die uitvoerende hoof van die Imbumba-stigting, Richard Mabaso, nooi deelnemers uit om insluiting en verskeidenheid te vier. Die reis verhoog ook bewusmaking rondom menstruele armoede en verskaf sanitêre doekies en menstruele higiëne-opleiding om minderbevoorregte jong meisies te bemagtig en in die skool te hou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….