Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Petrol- en dieselpryse val tot die laagste vlakke sedert vroeg verlede jaar
# Ramaphosa verwelkom die toenemende handel met China en moedig gebalanseerde en volhoubare groei aan
# En, Paralimpiese Spele: Louzanne Coetzee wen brons in die duisend-500-meter in Parys
# Die Departement van Petroleum en Minerale Hulpbronne het aangekondig brandstofpryse gaan môre om middernag daal tot hulle laagste vlakke sedert vroeg verlede jaar. Dan sal die prys van 93- en 95-oktaan-petrol met 92-sent per liter verlaag word, terwyl dieselpryse daal met onderskeidelik een-rand-vyf-sent en 79-sent per liter. Lampolie word besnoei met een-rand-drie-sent per liter en vloeibare gas sal tien-sent per kilogram goedkoper wees. Die verlagings word toegeskryf aan die afname in die prys van Brent-ruolie en ‘n sterker rand.
# President Cyril Ramaphosa het die toenemende bilaterale handel met China verwelkom, maar beklemtoon die behoefte aan die vernouing van die handelstekort en die herstrukturering van handelsbetrekkinge. Hy moedig volhoubare vervaardigings- en werkskeppende beleggings aan, en maak melding van die vordering met projekte van die Forum oor China-Afrika-samewerking. Ramaphosa herbevestig Suid-Afrika se steun vir ‘n suksesvolle 2024-spitsberaad van die forum:
# Die polisie- en gevangenes-burgerregtevakbond, Popcru, het ‘n beroep op hulle lede herhaal om nie fondse te onttrek uit hulle tweepot-aftreestelsel nie, wat gister in werking getree het. Die president van Popcru, Thulani Ngwenya, eis die tien-persent saadkapitaal moet belastingvry wees en onbeperk tot 30-duisend-rand. Hy betoog die huidige stelsel benadeel staatsamptenare, en moedig toegang aan tot pensioene sonder om die oorblywende deel onbeskikbaar te maak tot aftrede:
# Paralimpiese Spele: Louzanne Coetzee van Suid-Afrika, met haar gids, Erasmus Badenhorst, aan haar sy, het brons ingepalm in die vroue een-duisend-500-meter vir siggestremdes in Parys. Sy het ‘n persoonlike beste tyd aangeteken van vier-minute-35,49-sekondes. Yayesh Tesfaw van Ethiopië het goud gewen in ‘n wêreldrekordtyd van vier-minute-27,68-sekondes, terwyl He Shanshan van China die silwermedalje gekry het. Dit is Span Suid-Afrika se tweede medalje na Mpumelelo Mhlongo se goud in die 100-meter. Coetzee ding Sondag mee in die vroue-marathon.
Die burgemeester van Parys, Anne Hidalgo, het intussen ‘n hewige debat ontlok deur te sê sy wil die Olimpiese ringe op die Eiffeltoring hou. Sy sê die Internasionale Olimpiese Komitee het ingestem, so die ringe sal bly. Sommige Parysenaars steun die plan, maar ander sê dit sal die Franse hoofstad se ikoniese monument ontsier. Die ringe is geïnstalleer voor die opening van die Somerspele en sou na verwagting na die Paralimpiese Spele verwyder wees. Hidalgo is sedert 2014 Parys se burgemeester en is bekend vir haar sterk en somtyds omstrede hervormings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-374-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-498-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….