Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU stel hoë verwagtinge aan die uiteenlopende nuwe kabinet
# Sadou sê minister Gwarube moet saamwerk om gehalte openbare onderwys te lewer [KLANK]
# En, krieket: Die ACDP vra alle Suid-Afrikaners om steeds die Proteas te steun
# COSATU het die uiteenlopende verteenwoordiging in die nuwe kabinet verwelkom, insluitend vroue en die jeug. Matthew Parks van die vakbond-federasie verwag van die regering van nasionale eenheid om die ontsluiting van die ekonomie voorop te stel, werk te skep, armoede en ongelykheid te verminder en inklusiewe groei te verseker. Parks dring aan die Grondwet moet gevolg word, werkers se regte moet gerespekteer word en daar moet op hervorming gefokus word. Hy sê die vakbond beloof om alle partye noukeurig te monitor om te verseker hulle kom hul mandate na:
Sadou sê intussen president Cyril Ramaphosa het sy besluit geneem en was ten volle bewus van die gespanne verhouding tussen die onderwysvakbond en die DA toe hy Siviwe Gwarube as die minister van Basiese Onderwys aangestel het. Sadou se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê dit is die grootste vakbond in die sektor. Hy sê Gwarube kan nie voorgee Sadou bestaan nie, maar moet die vakbond erken en saamwerk om gehalte openbare onderwys te lewer in ‘n omgewing waar arbeidsvrede noodsaaklik is:
# Die Ingoma Forum wys op die belangrikheid van samewerking tussen tradisionele inlywingskole en hospitale voor hulle jong seuns en mans toelaat. Die kommer oor sterftes by sommige skole duur voort na die graduering van 300 ingelyfdes in KwaNdebele, Mpumalanga, na ‘n maand lange inlywingsproses. Die voorsitter van die forum, Vusi Masombuka, beklemtoon die belangrikheid van gesondheidsprotokolle, insluitende isolasie tydens uitbrekings. Owerhede vra verantwoordelike optrede na inlywing en veroordeel onwettige skole.
# Krieket: Die ACDP moedig alle Suid-Afrikaners aan om steeds die nasionale span te steun in elke wedstryd wat hulle laat vorder na die volgende groot toernooi. Die Proteas het in die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi tot die bitter einde alles in die stryd gewerp teen ‘n taai en vasberade Indiese span en uiteindelik met sewe lopies verloor. Die ACDP sê hulle het kragte gemeet met die wêreld se heel beste, en hulle briljante spangees, vasbytvermoë en dapperheid regdeur die toernooi bewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-723-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-334-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-52-sent per vat.
# Ten slotte: Die Wêreld Doeane-organisasie het die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, herkies as voorsitter vir 2024-’25 en verwys na sy doeltreffende leierskap en verbintenis tot globale handel. Die WDO loof sy toewyding tot wettige handel, om onwettige goedere te verhinder en vir veilige oorgrens-beweging. Kieswetter sê dis ‘n eer om die organisasie weer te lei en wil doeane-organisasies verenig ter wille van ekonomiese en maatskaplike welstand. Hy vra eenheid tussen doeane-organisasies om hervormende doelwitte te bereik wat ekonomiese en maatskaplike voordele vir alle lidlande verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….