Nuus 13:00
BULLETIN 13 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Springbokke neem soete wraak in Wellington
# Die polisie vind die liggaam van die vlieënier wat in Durban in die see neergestort he
# En China veroordeel die teenwoordigheid van Amerikaanse en Britse oorlogskepe in die Straat van Taiwan
# Ons skop af met goeie nuus: ‘n Uitstekende Springbok-span het hul naam in ere herstel na verlede week se swak vertoning teen hul aartsvyande, die All Blacks. Die All Blacks het teen rustyd met 10-7 in Wellington voorgeloop, met beide spanne wat ‘n drie gedruk het. Cheslin Kolbe het die Suid-Afrikaanse ondersteuners in die stadion op hul voete gehad toe hy onderskep en 75 meter hardloop vir sy eerste drie. Hy het nog ‘n drie binne die eerste paar minute van die tweede helfte gedruk, met nog drieë deur Grant Williams, Kwagga Smith, RG Snyman en Andre Esterhuizen vir ‘n bonuspunt-oorwinning van 43-10. Dit was die Springbokke se grootste oorwinning ooit oor die All Blacks. Die Suid-Afrikaners is nou ook weer die nommer een rugbyspan in die wêreld.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê nuwe bilaterale plantveiligheidsooreenkomste word gefinaliseer om toegang tot markte te verkry soos China vir avokado’s, Indië vir vars produkte, Japan vir graanprodukte en die Midde-Ooste vir beesvleis. Dit volg na die besluit van die VSA om ‘n eensydige tarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere in te stel. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê hierdie ooreenkomste word gerugsteun deur strategiese beleggings in koueketting-infrastruktuur en uitvoer-nakoming:
# Die Stad Tshwane sê hulle sal hul swartlys-aansoek teen sakeman Edwin Sodi teen 19 September weer by die Nasionale Tesourie indien. Dit volg drie jaar nadat hulle sy Rooiwal-watersuiweringsaanleg-tender van 295-miljoen-rand gekanselleer het. Dit het verband gehou met die Hammanskraal waterkrisis en die cholera-uitbreking van 2023. Volgens die Daily Maverick verwys die Stad na swak prestasie, verkrygingsonreëlmatighede en bevindings van die Ouditeur-Generaal. Die woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die proses het tyd geneem, maar is nou wettig, met ‘n onafhanklike hersieningskomitee wat voldoening verifieer.
# Die polisie in KwaZulu-Natal het vermoedelik die liggaam van die vlieënier Andrew Blackwood-Murray gevind, wat vermis geraak het na ‘n vliegtuigongeluk langs die kus van Durban verlede maand tydens ‘n lugskou. Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die liggaam is Vrydagaand langs die Bay of Plenty-strand op die Durbanse strandfront gevind:
# China se weermag het die vaart van Amerikaanse en Britse oorlogskepe gister deur die sensitiewe Taiwanstraat veroordeel en gesê hulle het die vloot- en lugmag beveel het om die twee skepe te monitor en te waarsku. Hulle sê die twee skepe was besig om moeilikheid te maak en uit te lok. Brittanje se ministerie van Verdediging het gesê dit was ‘n roetine vaart in volle ooreenstemming met internasionale reg en norme. China, wat Taiwan as sy eie gebied beskou, sê die strategiese waterweg is deel van sy territoriale gebied en het die afgelope vyf jaar sy militêre druk op die eiland verhoog.
# En rugby: Die jarelange mededinging tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland sal vandag ook in die Wêreldbekertoernooi vir Vroue in Engeland voortleef. Die Springbok-vroue kom teen die verdedigende kampioen te staan in die eerste kwarteindstryd, wat vanmiddag twee-uur in Exeter afskop. Kanada en Australië speel daarna in Bristol. Frankryk en Ierland speel môre in Exeter vir ‘n plek in die halfeindronde, terwyl die gasvroue in Bristol teen Skotland speel. Die halfeindstryde word volgende week gespeel en die eindstryd die 27ste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….