Nuus 11:00
BULLETIN 14 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê Pravin Gordhan was ‘n lewenslange aktivis en ‘n merkwaardige leier
# Talle polisiebeamptes is beseer met meer as 150-duisend betogers by ‘n Tommy Robinson-saamtrek in Londen
# En, Pirates maak geskiedenis met ‘n vierde agtereenvolgende MTN8-titel
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die ontslape Pravin Gordhan verpersoonlik die tydlose waardes wat die revolusionêre beweging oor die laaste 113 jaar van sy bestaan gevorm en gedefinieer het. Mbalula het ‘n huldeblyk namens die ANC by ‘n gedenkdiens vir Gordhan gelewer. Hy sê Gordhan se rol in die bevrydingstryd, demokratiese oorgang en die na-apartheid-regering maak hom een van die merkwaardige leiers van ons tyd:
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê die Howe vir Klein Eise het toegang tot regspraak uitgebrei vir baie gemeenskappe wat voorheen geen toegang gehad het nie. In die eerste kwartaal van die 2025/2026-boekjaar het Howe vir Klein Eise regoor die land meer as agt-duisend-515 nuwe eise geregistreer, wat altesaam 57,9-miljoen-rand beloop. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê hulle gaan voort om hindernisse tot geregtigheid af te breek, veral vir die kwesbaarste lede van die samelewing:
# Johannesburg Water sê alternatiewe wartervoorsieningmaatreëls is ingestel om die uitdagings in Hursthill 1, Hursthill 2, Brixton, Crosby, Alexander Park en Berea aan te spreek. Die woordvoerder vir Johannesburg Water, Pheladi Ramatshila, sê om die impak te verminder, is Jojo-tenks op verskeie plekke in wyke geplaas terwyl die aantal mobiele tenkwaens verhoog is. Sy sê hierdie ingrypings is om toegang tot water te verseker tydens hierdie tyd van beperkte beskikbaarheid:
# Ses-en-twintig polisiebeamptes is beseer tydens ‘n betoging wat deur die ver-regse aktivis, Tommy Robinson, gereël is, met soveel as 150-duisend mense in die strate van sentraal-Londen. Spanning het hoog geloop tydens die Unite the Kingdom-saamtrek, met betogers wat bottels en ander voorwerpe na die polisie gegooi het. In ‘n teen-protes het vyf-duisend betogers aan die Stand Up To Racism-betoging deelgeneem. Robinson, oftewel Stephen Yaxley-Lennon, het die skare by die “vryheid van spraak-fees” toegespreek. Hy beweer die howe in Brittanje ag die regte van ongedokumenteerde migrante bo dié van plaaslike gemeenskappe.
# Gholf: Kyle McClatchie, Dylan Mostert, Haydn Porteous en Ryan van der Klis het vanoggend hul tweede ronde hervat, as die gesamentlike voorlopers met ses onder baansyfer in die Vodacom Origins of Golf toernooi by die Gowrie Gholfbaan in KwaZulu-Natal, nadat swak lig Vrydag die spel beeïndig het. Dit was ‘n besige dag nadat die opgeskorte eerste rondte Saterdagmiddag uiteindelik voltooi is en die spelers dadelik met die tweede ronde begin het. Kelsey Nicholas is die voorloper in die Sonskyn Damestoernooi. Sy het haar ronde met twee onder die baansyfer op 69 voltooi.
# En ten slotte sokker: Orlando Pirates het Saterdag geskiedenis gemaak met ‘n vierde agtereenvolgende sege in die MTN8-toernooi na ‘n oorwinning van 3-0 oor Stellenbosch in die eindstryd op die Orlando Stadion. Na 90 minute sonder enige doele, het die Buccaneers drie doele in ekstra tyd aangeteken. Tshepang Moremi het in die 92ste minuut ‘n doel aangeteken, met nog een deur Tshegofatso Mabasa nege minute later, terwyl Moremi die oorwinning beklink het met ‘n derde doel in die 110de minuut. Pirates is die eerste span wat die die trofee vir ‘n derde jaar suksesvol verdedig, met Stellenbosch wat die afgelope twee jaar in die eindronde was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….