Nuus 07:00 (DGO) 15 November
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu verwelkom die geringe werkstoename, maar waarsku teen aanhoudende hoë werkloosheid
# Die ANC ontken bewerings van rassekwotas in landbou-uitvoere te midde van ‘n klagte deur die DA
# En krieket, Suid-Afrika hoop dis vyfde keer skeepsreg in sy wedstryd môre teen Australië
# Die vakbondfederasie Saftu verwelkom die geringe toename in indiensneming, maar spreek kommer uit oor die aanhoudende hoë werkloosheidsyfers. Ten spyte van ‘n agtste agtereenvolgende kwartaallikse toename in indiensneming, neem die federasie kennis die werkloosheidsyfer bly buitensporig hoog op 31,9-persent en die jeugwerkloosheid bly op 8,6-miljoen. Hulle skryf die krisis toe aan strukturele kwessies in kapitalisme en kritiseer die neo-koloniale ekonomie. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, vra die regering om ‘n U-draai te maak en vir verhoogde uitgawes en die opheffing van besuinigingsmaatreëls om ekonomiese groei en werkskepping te stimuleer:
Speel klankgreep: ENG ShakuOnUnemployment
# Die ANC sê hy is gekant teen pogings om waninligting rakende rassekwotas in landbou-uitvoere te versprei. Die DA het ‘n klagte by die Europese Unie en Britse handelskantore ingedien oor nuwe regulasies wat vereis dat plase aan Swart Ekonomiese Bemagtigings-maatstawwe vir uitvoerpermitte voldoen. Die ANC ontken rassekwotas en sê beleide is gegrond op regverdigheid en inklusiwiteit. Die party sê die kennisgewings in die Staatskoerant is nie nuut nie en weerspieël die vorige jaar se vereistes, met 96,2-persent van SA se uitgevoerde landbouprodukte wat belastingvry is. Die party beskou die DA se standpunt as polities gemotiveerd.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê hulle het al die vuurkrag en hulpbronne nodig om misdaad te bekamp. In die eerste kwartaal van 2023/2024 het die provinsie 27,9-persent tot die land se totale misdaadstatistiek bygedra. Tussen April en Junie vanjaar het misdaad in Gauteng met 41,1-persent gestyg. Lesufi het gister by ‘n sekuriteitsimposium in Sebokeng gesê hulle het die uitreik van dranklisensies gestaak in ‘n poging om die stryd teen dwelms en die verkoop van onwettige goedere te beëindig:
Speel klankgreep: ENG LesufiOnLicenses
# Die Universiteit van Kaapstad se raad het sy verbintenis bevestig om bestuursmislukkings van die verlede reg te stel en huidige strukture te versterk. Die raad sê hy is gereed om ‘n onafhanklike paneel, wat bestuursake by die instelling tussen 2018 en verlede jaar ondersoek het, se aanbevelings in te stel. Die verslag het die universiteit se gewese visekanselier, Mamokgethi Phakeng en raadsvoorsitter Babalwa Ngonyama, aan ernstige bestuursmislukkings skuldig bevind. Die raad sê ‘n subkomitee sal ‘n raamwerk opstel om die universiteit se bestuurstelsel te versterk.
# Die grootste uitlek van finansiële inligting ooit uit Siprus het onthul oligarge het honderde miljoene aan bates oorgedra terwyl sanksies gedreig het na die Russiese inval in Oekraïne. Dit is volgens ʼn ondersoek wat in The Guardian verskyn het. Een van Rusland se magtigste oligarge , Alexei Mordashov, word hierby betrek asook ʼn voormalige eienaar van die Chelsea-sokkerklub, Roman Abramovich. Daar word beweer PwC Cyprus en ander raadgewers het Mordashov gehelp en probeer om geld in ʼn openbare maatskappy oor te dra op die dag wat Europese sanksies teen hom ingestel is.
# Krieket: Suid-Afrika hoop dis vyfde keer skeepsreg wanneer hulle Australië môre pak in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi. Die Proteas het in vier vorige halfeindstryde vasgeval – in 1992, ’99, 2007 en 2015. Hulle het in 1999 en 2007 teen die Aussies verloor, op Edgbaston en in St Lucia. Terwyl die Proteas hulle gereedmaak vir die komende kragmeting op die ikoniese Eden Gardens in Kolkata wil hulle die halfeind-verhaal verander en uiteindelik deurdring na die eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 35-duisend-420-dollar-4-sent. Die prys van goud is een-duisend-963-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….