Nuus 06:00 (DGO) 20 November
BULLETIN 20 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê gebreekte eenhede by Eskom lei tot die verhoging van beurtkrag
# ‘n Ooreenkoms wat die vrylating van gyselaars in Gaza insluit, is binnekort moontlik
# En krieket, Australië klop Indië en wen sy 6de Wêreldbeker-titel
# Die minister van Elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa het onthul die breek van ‘n groep eenhede by Eskom het die verhoging van die beurtkragfase veroorsaak. Eskom moet beurtkrag gister noodgedwonge na Fase 3 verhoog, ten einde noodreserwes aan te vul met die oog op die nuwe week. Ramokgopa het die media toegespreek oor die vordering met die implementering van die Energie-aksieplan, Hy sê die onbeplande verlies aan kapasiteit was ‘n sleutel-bydraer tot die toename in beurtkrag.
Eskom sê intussen fase twee-beurtkrag sal van vyfuur vanoggend tot vieruur vanmiddag toegepas word, en sal gevolg word deur fase drie tot môreoggend vyfuur. Op Dinsdag en Woensdag sal fase een van vyfuur die oggend tot vieruur die middag van krag word, gevolg deur fase drie in die aande. Hierdie patroon sal voortduur tot verdere kennisgewing. Eskom sê hulle ervaar tans ‘n tekort aan opwekkingsvermoë en dis nodig om noodreserwes te bestuur.
# Die parlement het nege senior personeellede geskors ná ‘n eksterne ondersoek na die brand wat die Nasionale Vergaderinggebou in Januarie verlede jaar verwoes het. Hulle is deel van ‘n groep van 28 amptenare wat in die ondersoek geïdentifiseer is en moontlik verantwoordelik was vir sekuriteitstekortkominge. Die sekretaris van die Parlement Xolile George sê die geïdentifiseerde amptenare is ‘n kans gegun om op die moontlike aanklagte te reageer. Hy sê 13 van die 28 personeellede sal dissiplinêr vervolg word. Die parlementsgeboue word nou teen ‘n koste van twee-miljard-rand herstel.
# Johannesburg se stadsbestuurder, Floyd Brink, sal vandag ‘n buitengewone raadsvergadering belê vir die verkiesing van ‘n nuwe speaker van die raad. Die pos is verlede week vakant gelaat nadat die stad Colleen Makhubele se dienste as raadslid beëindig het. Sy is as lid en raadslid van die Congress of the People afgedank, nadat sy by die nuutgestigte koalisie, die SA Rainbow Alliance aangesluit het sonder goedkeuring van die Cope-leierskap. Die voormalige Johannesburgse burgemeester Thapelo Amad en die African Independent Congress-raadslid Margaret Arnolds het volgens berigte as moontlike kandidate vir die speaker-posisie na vore getree.
# Israel, die VSA en Hamas is volgens berigte op die punt om ‘n ooreenkoms te bereik wat tot die vrylating van tientalle gyselaars sal lei, in ruil vir ‘n vyf-dag lange onderbreking van gevegte. Druk op Israeliese premier Benjamin Netanyahu neem toe om ‘n ooreenkoms te bereik vir die veilige terugkeer van ongeveer 240 mense wat op die sewende Oktober deur Hamas ontvoer is, met meer as eenduisend wat in die aanval dood is. Die ooreenkoms kan lei tot ‘n groter vloei van humanitêre hulp na Gaza. Die Withuis sê daar is nog geen ooreenkoms nie, maar werk gaan voort om een te bewerkstellig.
# Krieket: ‘n Uitstaande kolfvertoning deur Travis Head het Australië tot hul sesde Wêreldbeker-titel gelei nadat hulle die gasheer Indië met ses paaltjies verslaan het. Indië het die eindstryd aangepak as die enigste onoorwonne span in die toernooi, maar was almal uit vir 240 met Mitchell Starc wat drie paaltjies laat kantel het. Australië het die tuisspan se trotse rekord in die toernooi tot ‘n einde gebring in die belangrikste van al die wedstryde. Die Aussies het hulle teiken van 241 lopies na 43 boulbeurte bereik met slegs vier paaltjies plat. Head se 137 van 120 balle was die hoogtepunt van die beurt. Steve Smith van Australië sê die span het ‘n ongelooflike vertoning gelewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-347-dollar-30-sent. Die prys van goud is een-duisend-980-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….