Nuus 06:00 (DGO) 20 November
BULLETIN 21 November 6 vm
Goeiemôre Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister in die Presidensie sê diegene wat verantwoordelik is vir die manipulasie van die rand sal die gevolge moet dra
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie prys die doeltreffendheid van sy kiesersbestuurtoestel
# En krieket, Quinton de Kock word in Wêreldbeker-elftal opgeneem, met Gerald Coetzee die 12de man
# Minister in die Presidensie Khumbudzo Ntshaveni sê diegene wat verantwoordelik is vir die manipulasie van die rand sal aan die pen moet ry. Die Britse Standard Chartered Bank het verlede week ‘n skikking met die Mededingingskommissie bereik vir samespanning met 27 ander banke om die rand te manipuleer tussen 2007 en 2013. Die bank het ingestem om ‘n boete van sowat 43-miljoen-rand te betaal om die kwessie te beredder. Ntshaveni sê die manipulasie van die rand was deel van die privaat sektor se voortgesette pogings om die regering te destabiliseer.
# Gauteng het die hoogste aantal registrasies tydens die spesiale kiesersregistrasienaweek aangeteken. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het altesaam 610-duisend-940 registrasies in die provinsie aangemeld. KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap volg kort op sy hakke met hoë getalle geregistreerde kiesers. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het op ‘n nuuskonferensie gesê die algehele getal geregistreerde kiesers in Gauteng staan nou op 6,2-miljoen.
Die OVK het intussen die doeltreffendheid van sy kiesersbestuurtoestel geloof. Dit het gehelp om die spoed waarmee die kieserregistrasies verwerk is te verhoog. Mamabolo het op ‘n nuuskonferensie bevestig alle registrasies is doeltreffend deur die stelsel vasgelê. Hy sê die kieserslys staan tans op 26,8-miljoen kiesers, ‘n toename van 26,3-miljoen voor die registrasienaweek.
# Die nuutverkose speaker van die Johannesburgse raad, Margaret Arnolds, sê sy wil verseker dat die raad vlot bestuur word en dienste aan die inwoners van die provinsie gelewer word. Die raadslid van die African Independent Congress vervang Colleen Makhubele, wat verlede week as ‘n Congress of the People-raadslid afgedank is. Volgens die ANC/EFF/PA-geleide koalisieregering word die posisie van speaker aan ‘n minderheidsblok toegeken en hulle het besluit die vakature moet deur Arnolds gevul word. Sy sê sy is gereed om aan die werk te spring.
# President Cyril Ramaphosa lewer vandag in sy hoedanigheid as die voorsitter van die BRICS-groep van lande, die openingsrede op die buitengewone gesamentlike vergadering van BRICS oor die situasie in Gaza. Die vergadering vind virtueel plaas en bestaande lede van BRICS asook leiers van Saoedi-Arabië, Argentinië, Egipte, Ethiopië, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate sal dit bywoon. Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sal na verwagting ook deelneem. Die leiers sal ‘n gesamentlike verklaring uitreik oor die huidige situasie in Gaza, wat internasionale samewerking oor die krisis onderstreep.
# Krieket: Quinton de Kock is die enigste Suid-Afrikaner in die Wêreldbeker-elftal wat die Internasionale Krieketraad na afloop van die toernooi aangewys het. Hy het 594 lopies bygedra, insluitend vier honderdtalle. Die Protea-snelbouler Gerald Coetzee is as twaalfde man aangewys. Daar is ses spelers van die gasheer, Indië, wat in die eindstryd teen Australië verloor het: Rohit Sharma, Virat Kohli, KL Rahul, Ravindra Jadeja, Jasprit Bumrah en Mohammed Shami. Die ander is Adam Zampa en Glenn Maxwell van Australië, Daryl Mitchell van Nieu-Seeland en Dilshan Madushanka van Sri Lanka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-444-dollar-86-sent. Die prys van goud is een-duisend-989-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….