Nuus 06:00 (DGO) 16 November
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika wil ‘n vennootskap met Katar sluit in die billike energie-oorgang
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge hoor André de Ruyter se intelligensieverslag is op ongeverifieerde inligting gegrond
# En krieket, Indië verslaan Nieu-Seeland om die Wêreldbeker-eindstryd te haal
# President Cyril Ramaphosa sê die regering kyk na maatskappye in Katar om met Suid-Afrika saam te werk terwyl hulle die Billike Energie-oordrag Beleggingsplan instel. Hy het gister aan ‘n sake-rondetafel in Katar deelgeneem. Ramaphosa sê daar is nou geleenthede vir vennootskappe in hernubare energiebergingstegnologieë, soos batteryvervaardiging vir energienetwerkstelsels en elektriese voertuie. Die president het bygevoeg Katar het die ervaring, tegnologie en kapitaal in die petrochemiese, aardgas- en energie-infrastruktuur.
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge moes hoor die intelligensieverslag wat deur die voormalige uitvoerende hoof van Eskom André de Ruyter gebruik is, is op ongeverifieerde inligting gegrond. Die afgetrede polisiebrigadier Jap Burger het gister voor die komitee verskyn. Hy was die aangewese polisiebeampte wat die bewerings deur De Ruyter hanteer het. Die intelligensieverslag het beweer netwerke van kriminele kartelle en mafias wat met hoëprofielpolitici verbind is, was besig om Eskom te saboteer en leeg te tap. Burger sê ondersoeke binne die polisiediens teiken die voetsoldate en nie die meesterbreine agter Eskom-misdade nie.
# Die vakbond Solidariteit waarsku die regering is moontlik nalatig om openbare kommer oor die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette te verontagsaam. Volgens ʼn meningsopname deur die vakbond se navorsingsinstituut is meer as een-duisend Afrikaanssprekende ouers sterk gekant teen die BELA-wetgewing. Die deelnemers is besorg oor die bedreiging vir Afrikaans, die negatiewe uitwerking op die gehalte van onderwys en die voorgestelde verskuiwing van mag van skoolbeheerliggame na Onderwysdepartemente. ʼn Woordvoerder van Solidariteit, Johnell Prinsloo, sê die navorsing toon ʼn diepgegronde wantroue in die regering, insluitende kommer oor die regering se voortgesette beheer oor skole.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sal na verwagting die bevindings van ‘n ondersoekverslag voorlê oor die omstandighede rondom die dood van ‘n jong leerder, Sibusiso Mbatha. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die ondersoekverslag sal by die Laerskool Khehlekile in Tokoza aan die skool se bestuurspan, beheerliggaam en die kind se familie voorgelê word. ‘n Onafhanklike regsfirma is aangestel om die departement met sy ondersoek by te staan. Hy sê die 12-jarige het homself glo opgehang nadat sy onderwyser na bewering homofobiese opmerkings teenoor hom gemaak het.
# Die Palestynse Owerheid se minister van Gesondheid, Mai al-Kaila, sê die lewens van 70 kankerpasiënte word ernstig bedreig weens ‘n gebrek aan behandeling. Al-Kaila verduidelik ongeveer twee-duisend kankerpasiënte in die Gazastrook leef in katastrofiese gesondheidstoestande. Die direkteur van die Turks-Palestynse Vriendskapshospitaal, Subhi Sukeyk, berig noodsaaklike medisyne raak op, en gespesialiseerde behandelings, insluitend chemoterapie, kan nie verskaf word nie. Sukeyk merk sommige pasiënte is na die Dar Essalam-hospitaal in Khan Younis oorgeplaas, wat basiese kliniese sorg bied.
# Krieket: Virat Kohli en Mohammed Shami het vir Indië geskitter toe die gashere Nieu-Seeland met 70 lopies in Mumbai verslaan het om hul plek in die Wêreldbeker-eindstryd te bespreek. Kohli het 117 van 113 balle aangeteken, en met sy 50ste eendag internasionale honderdtal, sy voormalige spanmaat Sachin Tendulkar se rekord verbeter. Kohli het saam met Shreyas Iyer, wat 105 lopies aangeteken het, Indië tot ‘n telling van 397 vir vier gelei. In antwoord hierop het Daryl Mitchell 134 aangeteken, maar Nieu-Seeland was almal uit vir 327 met Shami wat sewe paaltjies laat kantel het. Indië sal óf Suid-Afrika óf Australië in Sondag se eindstryd ontmoet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-763-dollar-6-sent. Die prys van goud is een-duisend-958-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….