Nuus 06:00 (DGO) 14 November
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 14 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoofregter Zondo sê kwytskelding is nie ‘n rede om Jacob Zuma se verhoor te stop nie
# Die DA eis die dringende herlewing van die polisiereservisteprogram
# En, die aanstelling van David Cameron as minister van Buitelandse Sake word gekritiseer
# Hoofregter Raymond Zondo sê die Nasionale Vervolgingsgesag moet aanklagte teen oudpresident Jacob Zuma verder voer indien hulle van mening is daar is ʼn saak teen hom. Dit volg op die besluit in Augustus om die res van Zuma se tronkstraf van 15-maande weens minagting van die hof kwyt te skeld. Zondo het ook in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika beklemtoon dat die verhoor oor die wapentransaksie teen Zuma, wat na bewering omkoopgeld aanvaar het, nie gestaak moet word nie. Hy glo dis belangrik dat die howe oor Zuma se lot beslis.
# Die DA eis vir die onmiddellike herlewing van die polisie se reservisteprogram. Die party sê daar is slegs drie-duisend-502 reserviste oor, wat ‘n verstommende 90-persent afname is sedert die 2011/12 boekjaar. Die DA-lid, Andrew Whitfield, skryf die afname toe aan die minister van polisie, Bheki Cele, se doelbewuste verwaarlosing. Volgens Whitfield wek die ineenstorting van die reserviste-program kommer oor hoe die toenemende misdaad aangepak gaan word. Hy doen ‘n beroep op die polisie om met ‘n vinnige werwingsaksie te begin, en veral om afgetrede lede te teiken.
# Die Universiteit van die Wes-Kaap het die student wat ‘n 26-jarige vrou by ‘n studentekoshuis van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie met ‘n mes gesteek het, uit die instelling geskors. Die 30-jarige man, wat teregstaan op ‘n aanklag van poging tot moord, het gister vlugtig in die Bellville-landdroshof verskyn. UWK se woordvoerder, Gasant Abarder, sê die universiteit veroordeel enige daad van geslagsgeweld.
# AfriForum se Privaatvervolgingseenheid sal nog vier slagoffers verteenwoordig teen beamptes van die Tshwane Metropolisie wat van roof, ontvoering en aanranding beskuldig word en dateer uit 2017. Johnson Lebombo en Aubrey Phalane het gister saam met Makgoba Ramokshakga in ‘n afsonderlike saak in die hof verskyn. Die drietal sal ook intern dissiplinêre verhoor word. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid in Tshwane, Grandi Theunissen, ondersteun die eenheid in sy stryd teen korrupte praktyke. Die woordvoerder van die eenheid, Barry Bateman, sê die stryd teen sulke magsmisbruik duur voort en hy moedig slagoffers aan om na vore te kom ter wille van geregtigheid. Die saak hervat in Maart 2024.
# Die Britse eerste minister Rishi Sunak se besluit om David Cameron in ‘n kabinetskommeling as minister van Buitelandse Sake aan te stel is gekritiseer. Die voormalige eerste minister vervang James Cleverly, wat die nuwe minister van Binnelandse Sake word ná die afdanking van Suella Braverman. Die Arbeidersparty sê Cameron se aanstelling bring ‘n einde aan Sunak se lagwekkende aanspraak dat hy na 13 jaar van Tory-mislukkings ‘n verandering gemaak het. Intussen beweer die leier van die Plaid Cymru Westminster, Liz Savile Roberts, dat die Konserwatiewe Party nie eens meer voorgee dat hulle demokraties aanspreeklik is nie.
# Krieket: Die voormalige snelbouler van die Proteas, Morné Morkel, het sy afrigterspos as snelbouler-afrigter van Pakistan verlaat – ʼn maand voor sy kontrak verstryk. Hy is in Junie aangestel en het die land gehelp om in die vyfde plek op die Wêreldbeker-punteleer te eindig. Die Krieketraad van Pakistan het bekendgemaak Morkel het bedank sonder om enige rede te verstrek, nadat die span by die toernooi uitgeval het. Die beheerraad sê ʼn plaasvervanger word eersdaags aangekondig. Morkel het ʼn Australiese burger geword sedert hy in 2018 opgehou speel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-383-dollar-60-sent. Die prys van goud is een-duisend-945 -dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….