Nuus 06:00 (DGO) 13 November
BULLETIN 13 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi sê die regering moet die Burgerskapwet heeltemal herskryf
# Eskom verhoog beurtkrag weens tekort aan opwekkingsvermoë
# En, Aartsbiskop Makgoba sê oorlog los nie menslike konflik op nie
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, sê die regering moet die Wet op Burgerskap, die Wet op Vlugtelinge en die Immigrasie-wet heeltemal herskryf om die nuwe uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, die hoof te bied. Motsoaledi het die land oor die afkondiging van die witskrif oor burgerskap, immigrasie en vlugtelingbeskerming in Pretoria toegespreek. Die minister sê die departement het onoorkombare struikelblokke met die implementering van die drie stukke wetgewing ervaar.
# Eskom sê beurtkrag sal die week tussen fase een, twee en drie wissel weens ‘n tekort aan opwekkingsvermoë. Fase twee sal vanoggend van vyfuur af tot vieruur vanmiddag toegepas word, gevolg deur fase drie tot môreoggend vyfuur. Fase een sal dan tot vieruur die middag van krag wees, gevolg deur fase drie tot vyfuur Woensdagoggend. Eskom sê hierdie patroon met fase een gedurende die dag en fase drie in die aande, sal tot Vrydag voortduur.
# Die Suid-Afrikaanse Studente-unie vra vir ‘n spesiale polisie-eenheid om geslagsgeweld by tersiêre instellings aan te pak. Dit volg nadat ‘n student van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie by studenteverblyf in Belhar deur haar lewensmaat met ‘n mes gesteek is. Die 26-jarige vrou is tans in ‘n bedenklike toestand in die Tygerberg-hospitaal. Die polisie het bevestig die 30-jarige manstudent is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking in die hospitaal. Die studente-unie sê statistieke wys geslagsgeweld by tersiêre instellings het ernstige ingryping nodig.
# Die oorlogsmisdade in Gaza, die Wesoewer of Israel waar kinders, vroue en mans onoordeelkundig vermoor word moet eindig, en nie bloot met ‘n wapenstilstand nie maar vir altyd. Dit is die mening van die Anglikaanse Aartsbiskop van Kaapstad en president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, Thabo Makgoba. Hy sê gyselaars moet vrygelaat word en alle partye moet die pynlike les van die afgelope maand leer, dat oorlog nie menslike konflik oplos nie. Makgoba het nasies versoek om ander lande te keer wat wapens aan partye in die oorlog verskaf.
# Gholf: Die Amerikaner Max Homa het die Nedbank-gholfuitdaagtoernooi by Sun City met vier houe gewen. Die 32-jarige Kaliforniër het ‘n ses onder 66 aangeteken om op 19 onder te eindig en daarmee sy eerste DP World Tour-oorwinning ingepalm. Homa se naaste teenstander was Nicolai Hojgaard met ‘n laaste ronde van 68 om tweede op 15 onder baansyfer te eindig. Hojgaard se Deense landgenoot Thorbjorn Olesen het op 14 onder geëindig, terwyl die tweemalige Major-kampioen, die Amerikaner Justin Thomas, vierde klaargemaak het op 12 onder baansyfer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-261-dollar-6-sent. Die prys van goud is een-duisend-940-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte, die minister van Sport, Kuns en Kultuur. Zizi Kodwa, het die Suid-Afrikaners Trevor Noah, Tyla en Musa Keys gelukgewens met hul Grammy-benoemings. Die komediant en voormalige Daily Show-gasheer Noah is in die afdeling se beste komedie-album genomineer vir sy Netflix-program, I Wish You Would. Die een-en-twintigjarige Tyla is genomineer vir Beste Afrika Musiekuitvoering vir haar trefferliedjie Water, terwyl Keys ook in dieselfde kategorie genomineer is vir sy bydrae tot Davido se snit Unavailable. Kodwa sê die drie is groot ambassadeurs vir Suid-Afrika se kreatiewe kunstalent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….