# Die staat New York se Departement van Gesondheid het gewaarsku meer kinders word weens Covid-19 in hospitale opgeneem. Die departement sê in ‘n verklaring om en by die helfte van hospitaalopnames is kinders jonger as vyf-jaar. Die departement sê die toename in kinders van 18-jaar en jonger wat in die hospitaal opgeneem word, is rede tot groot kommer, veral te midde van kritiek teen die VSA weens ‘n tekort aan Covid-19-toetse tot Januarie. Die land het daagliks gemiddeld 190-duisend nuwe Covid-19-gevalle.
Intussen word uit Australië berig dié land het sy eerste sterfgeval weens die nuwe Omikron-variant van Covid-19 aangeteken. Dit kom te midde van nog ‘n skielike toename in infeksies. Die land het egter geen nuwe inperkings aangekondig nie, aangesien hospitaliserings steeds min is.
En op eie bodem het Suid-Afrika vyf-duisend-604 nuwe gevalle in die 24 uur tot en met gisteraand aangemeld, met nog 41 virus-verwante sterftes wat aangegee is.