Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 19 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika se oudste kunstefees, die Nasionale Kunstefees in die Oos-Kaap, vier vanjaar sy 50-jarige bestaan. Die saamgestelde program sluit in die wêreldpremière van The Stranger van Third World Bunfight, asook 1789 van die Sibikwa-kunssentrum. Die fees stel ook die baanbreker-multinasionale dansontwikkelingsprogram, Third Space, bekend. Dis ‘n projek van die Franse Instituut van Suid-Afrika, en Lesotho en Malawi se ambassades. Die fees vind van 20 tot 30 Junie in Makhanda plaas.
# Die Universiteit van die Vrystaat se koördineerder vir Internasionale Vennootskappe is gekies om deel te neem aan die 2024 Mandela Washington-studiegeleentheid vir Jong Afrika-leiers. Kagiso Ngake sal die tydperk by die Instituut vir Openbare Bestuur aan die Arizona-staatsuniversiteit in Phoenix, Amerika, deurbring. Ngake is opgewonde om in Junie te begin en sê hy sien uit na kontak met ander deelnemers, asook ontmoetings met verteenwoordigers van organisasies met gevestigde belange in Afrika.
# ‘n Student aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Zenele Nkambule, het die ROTOCON-kompetisie vir wynetiket-ontwerp gewen. Die 34-jarige is besig met ‘n gevorderde diploma in Geïntegreerde Kommunikasie-ontwerp. Hy het 30-duisend rand, retoervlugte vir die WineLand Media/ROTOCON 30 Under 30-glanstoekennings en verblyf in die Paarl in die Wes-Kaap in Junie gewen. TUT sê Nkambule het inspirasie vir sy ontwerp, Route 62, gekry uit die prentjiemooi dorp Stellenbosch.
# Die Gautengse regering stuur vandag ‘n mobiele stortprogram vir haweloses by Wembley-stadion in Johannesburg van stapel. Premier Panyaza Lesufi en die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling Mbali Hlophe sal mobiele stortdienste bekendstel as deel van pogings om noodsaaklike dienste te verskaf vir straatmense. Die veldtog wil die groeiende hawelose bevolking help deur noodsaaklike dienste te verskaf en higiëne en gesondheid te bevorder. Die mobiele storte sal geplaas word in parke, oop ruimtes, onder brûe en op strate waar hawelose gemeenskappe dikwels bly.
# En, die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsiale regering gaan voort om klein-, medium- en mikro-ondernemings te help om tydens beurtkrag oop te bly. Die provinsiale Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme se ondersteuningsprogram vir alternatiewe energie het in die 2023/24-boekjaar 12.5-miljoen-rand toegewys om foto-voltaïese rugsteunstelsels op te rig by handelsentrums waar klein sake-ondernemings bedryf word. Winde sê hulle help minstens 50 ondernemings en behou so meer as 100 werksgeleenthede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….