Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n posisie in die top agt-persent van universiteite wêreldwyd behaal vir sy aanbod van hoë gehalte en bekostigbare onderwys en opleiding aan internasionale studente . Die lys is bepaal deur Study Abroad Aide, wat meer as agt-duisend privaat en openbare hoëronderwysinstellings oor 69 lande beoordeel het. Die viserektor vir Navorsing, Innovering en Nagraadse Onderwys, Sunil Mahaaraj, sê die universiteit is daartoe verbind om ‘n wêreldwye inklusiewe akademiese omgewing te skep, waar studente toegang tot die beste gehalte onderwys kan kry.
# Die Shoprite-stigting het robotika-laboratoriums by die Hoërskole Mountview en Verulam in KwaZulu-Natal van stapel gestuur. Die projek, met ‘n belegging van 1,6-miljoen-rand, het ten doel om die Departement van Onderwys se program oor kodering en robotika as ‘n skoolvak te ondersteun. Die stigting het opleiding en toerusting verskaf, en bestaande rekenaar-klaskamers omskep in ten volle funksionele robotika-laboratoriums. Persoonlike en aanlyn opleiding vir onderwysers vorm ook deel van die program. Dit is die eerste fase van ‘n breër tegnologie-ondersteuningsprogram vir skole regoor Suid-Afrika.
# Ervare wetenskaplikes en geneeshere van PediCAP en SNIP-AFRICA het onlangs grensverskuiwende wyses bekend gemaak om antibiotika-navorsing te bevorder wat op die behoeftes van kinders en hulle gesinne fokus. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie was antimikrobiese weerstandigheid in 2019 wêreldwyd verantwoordelik vir 1,27-miljoen sterftes waarvan een uit vyf ‘n kind jonger as vyf was. SNIP-AFRICA sal nou kliniese proewe en farmakokinetiese studies uitvoer om die optimale antibiotika-dosis en gesondheidsreëls te identifiseer wat die sterftesyfer onder pasgebore babas wat aan middel-weerstandige sepsis sterf, aansienlik kan verlaag.
# ‘n Groep wat toegewy is om fondse in te samel vir kinders met kanker, CHOC COWS, vier sy tiende bestaansjaar. Die groep het aan die Midmar-myl in KwaZulu-Natal deelgeneem, geklee soos koeie, om fondse in te samel vir die CHOC-kinder-kankerstigting. CHOC Cows, wat in 2014 gestig is, het miljoene-rand vir die stigting ingesamel. Die projek is daarop gemik om die gesondheid en welstand te bepleit van kinders en tieners wat met kanker of lewensgevaarlike bloedafwykings gediagnoseer is. CHOC Cows bevorder ook bewusmaking en opvoeding oor kinderkanker.
# En ten slotte: Die grootste sosiale sport- en lewenstylgeleentheid, die Kaapstad 10’s, is vandag die eerste van ‘n maand vol geleenthede in die Moederstad. Ses sportkodes vorm deel van die tweedaagse fees, insluitende rugby, netbal, padel, waterpolo en ‘n liefdadigheidswedloop oor vyf-kilometer Saterdagoggend. Die burgemeesterkomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Kaapstad bied ondersteuning aan minstens 21 geleenthede wat hierdie maand plaasvind:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….