Goeie Nuus
BULLETIN 18 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaans-ontwerpte koderingspeletjie, Rangers, gaan gebruik word in ‘n internasionle onderwysprojek in Ierland. Die speletjie, Enabling Digital Technology in Primary School, wil alle laerskole in Ierland toerus met gratis aflynige digitale tegnologie-toerusting. Rangers is ontwikkel deur Tangible Africa, wat ‘n betrokkenheidsprojek is van die Nelson Mandela-universiteit se Departement van Rekenaarwetenskap. Die stigter van Tangible Africa, Jean Greyling, sê om kodering in skole in te stel is onontbeerlik omdat dit help met kritiese denke.
# Twee jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gaan hulle navorsingsprojekte op vanjaar se internasionale fees vir ingenieurswese, wetenskap en tegnologie in Tunisië uitstal. ‘n Graad 12-leerder van Bryanston High School in Johannesburg, Keerthana Kishor Nair, se navorsing spoor long-TB op en het onmiddellike resultate wat dit meer doeltreffend as tradisionele TB-toetsmetodes maak. ʼn Graad 10-leerder aan Parktown High School for Girls in Johannesburg, Alexia Hilton Smedmor, gebruik verskillende brandstofselle as natuur-gegronde tegnologie om die omgewing te herstel terwyl dit energie vervaardig.
# Enviro Solutions Centre sê hy vorder met sy ondersteuning van groentetuine reg oor Suid-Afrika deur gratis groentesaad uit te deel om mense aan te moedig om hul eie voedsel te kweek. Die organisasie het onlangs aangekondig hy het ʼn betekenisvolle mylpaal in sy saadveldtog bereik deur 30 gemeenskapswerkers in ses provinsies, insluitend Gauteng en die Wes-Kaap, te registreer. Meer as twee-duisend-200 sade is uitgedeel aan mense wat in hulle tuin groente kweek. ESC sê hy wil tydens sy volgende verspreidingsveldtog teen September vier-duisend kwekers bereik.
# Die Johan Cruyff-stigting wil graag meer maatskaplike sportprogramme in minderbevoorregte gebiede regdeur Suid-Afrika bekendstel. Die stigting se uitvoerende hoof, Neils Meyer van Nederland, het Diepsloot onlangs besoek ná die inwyding van die Afrika Tikkun buitelug-sportgerief. Hy het die behoefte beklemtoon om voorrang te gee aan kinders en jongmense wat nie toegang het tot gereelde sportgeleenthede nie. Meyer meen Suid-Afrika het groot potensiaal om jong spelers te ontwikkel en ‘n blywende verskil te maak:
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het senior menseredders, die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Water-wetstoepassingseenheid en Duikdienste, en SANParke se veldwagters betrek by ‘n nuwe veldtog. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê dit behels waterveiligheidsopleiding aan ongeveer 100 veldwagters van die Tafelberg Nasionale Park. Sy sê hoewel dit ‘n korttermyn-projek is, sal dit geweldige waarde ontsluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….