Goeie Nuus
BULLETIN 15 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Nasionale Navorsingstigting sê die nuwe Suid-Afrikaanse isotoop-gerief is ‘n baanbreker wat betref die land se pogings om die vervaardiging van lewensreddende kerngeneeskunde, asook relevante navorsing en opleiding te verhoog. Dit is by die iThemba Laboratory for Accelerator-Based Sciences in Kaapstad gebaseer. Die stigting se uitvoerende hoof, Fulufhelo Nelwamondo, sê dit sal Suid-Afrika in staat stel om navorsing oor sub-atomiese fisika en dissiplines soos ruimtewetenskap, nanowetenskap en ander tegnologie uit te brei:
# Die Golden Key International Honours Society het onlangs Key-status aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie toegeken. Dit is die wêreld se grootste kollegiale ere-vereniging. Die organisasie is in 2000 in Suid-Afrika gestig en gebruik ʼn stel hoë standaarde om deelname en nakoming aan sy pilare van vakgeleerdheid, loopbaanontwikkeling, leierskap en gemeenskapsdiens te meet. Professor Ben van Wyk van TUT sê die universiteit se Golden Key-program open deure vir studente om deel te word van ʼn internasionale gemeenskap en ʼn netwerk wat wêreldwyd uit meer as 400 instellings bestaan.
# Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur saam met die Ontwikkelingsraad vir die Konstruksiebedryf het die B.U.I.L.D-program van stapel gestuur. Dit het ten doel om Suid-Afrika se boubedryf te bevorder, inklusiewe ontwikkeling aan te moedig en deure te open vir ontluikende kontrakteurs. Die adjunkminister van Openbare Werke, Bernice Swarts, sê die bemagtiging van vroue en die jeug is noodsaaklik vir die boubedryf:
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth is aangewys as 2023 se manspeler van die Jaar op die SA Rugby-toekennings in Johannesburg. Hy is slegs die tweede speler wat daarin kon slaag om dié toekenning agtereenvolgens in te palm. Die Bok-vleuel Canan Moodie is die tweede agtereenvolgende jaar as Jong Speler van die Jaar bekroon. Libbie Janse van Rensburg het met die Springbok-vroue- en Provinsiale Speler van die Jaar-toekennings weggestap. Ricardo Duarttee het die Springbok-mans-sewesspeler van die Jaar gewen, en die voormalige Bok-breier Jacques Nienaber is die Afrigter van die Jaar.
# En, om mee af te sluit: Vandag is Wêreld-slaapdag, wat fokus op die belangrikheid van goeie gehalte slaap vir algehele welstand. Vanjaar se tema is Gebalanseerde Slaap vir Wêreldgesondheid. Volgens die Amerikaanse Slaapvereniging ly meer as 50- tot 70-miljoen mense aan een of ander soort slaapversteuring. Die Wêreldslaapvereniging sê mense word aangemoedig om na hul slaappatrone te kyk en gepaste veranderinge aan te bring om te rus. Die vereniging sê dit kan die opstel van ‘n nuwe slaapprogram en ‘n paar ontspanningsoefeninge voor slaaptyd insluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….