NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 10:30 vm
Goeiemôre, hier is jou Eko-minuut:
# Die burgerlike organisasie “We are South Africans” het begin met ‘n proses om ‘n interdik te bekom teen die Australiese maatskappy Searcher Seismic se beplande seismiese opname langs die Weskus. Woordvoerder Gilbert Martin sê ‘n verkennings-permit is uitgereik met ‘n effektiewe datum van 6 Desember. Hy sê die opname word beplan om op 15 Januarie te begin, maar die publiek kan steeds beswaar maak. Martin sê die organisasie het intussen met ‘n versoekskrif begin wat op hulle webblad beskikbaar is:
Speel klankgreep: AFR GilbertMartinOOROpname
# Die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging onder leiding van inspekteur Jaco Pieterse het honderde seesterre op strande in Valsbaai in Kaapstad gered. Hy sê hulle is na Clovelly uitgeroep om ondersoek in te stel na seesterre wat op die strand lê. Die span het al langs die branderlyn na Vishoek gestap en die seesterre terug in die water gegooi nadat hulle die Twee Oseane-akwarium geraadpleeg het. Die publiek word versoek om nie die seesterre huis toe te neem nie.
# En om mee af te sluit, geen passasiers of bemanning is beseer toe ‘n voël in ‘n vliegtuig vasgevlieg het op ‘n privaat huurvlug van die streeksredery Airlink in Limpopo nie. ‘n Woordvoerder sê die vliegtuig, ‘n Jetstream, is taamlik beskadig. Die vliegtuig het by die Venetia-lughawe geland toe dit ‘n groot voël getref het. Die voorval is by die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid aangemeld. Die Venetia-lughawe bedien De Beers se Venetia-diamantmyn en die Venetia Limpopo-natuurreservaat.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….