# Britse teenterreur-beamptes het drie mense in hegtenis geneem ná ‘n voertuigontploffing buite die Vrouehospitaal in Liverpool in die noorde van Engeland. ‘n Passasier in die voertuig is dood en die bestuurder is beseer. Hy is in ‘n bestendige toestand in die hospitaal. Die BBC berig dat ‘n taxi met een passasier buite die hospitaal stilgehou en ontplof het. Die ontploffing het plaasgevind naby die plek waar ‘n gedenkbyeenkoms met twee minute stilte vir Wapenstilstanddag gehou sou word. Die burgemeester van Liverpool, Joanne Anderson, het die voorval as ontstellend en verontrustend beskryf.