Nuus 15:00
BULLETIN 12 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Talle mense sterf toe ‘n vliegtuig van Air India onderweg na Londen neerstort kort na opstyging
# Die dodetal in die Oos-Kaapse vloede styg tot 57
# En rugby: Kaartjieverkope open môre vir die Bokke se tuistoetse
# ‘n Air India Boeing 787-8 Dreamliner het neergestort minute nadat dit van Ahmedabad in die weste van Indië opgestyg het onderweg na die Gatwick-lughawe in Londen. Daar was 242 mense aan boord, insluitend 11 kinders. Die passasiers sluit 169 Indiese burgers, 53 Britte, sewe Portugese en ‘n Kanadees in. Dit het teen ‘n hostel vir dokters naby die lughawe neergestort en talle mense is dood. Die vlieëniers het ’n noodsein uitgesaai maar kontak is kort daarna verbreek. Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het die tonele as verwoestend beskryf.
Terug in Suid-Afrika:
# Die dodetal in die Oos-Kaapse vloede het tot 57 gestyg. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die owerhede verwag dat die syfer verder sal styg. Hy beskryf die situasie in gebiede soos Mthatha as verwoestend en versoek Suid-Afrikaners om nie op gelyk vlaktes te bou nie, aangesien klimaatsverandering rampe sal vererger. Hlabisa vra strenger maatreëls om gemeenskappe te hervestig wat in gevaar verkeer:
# President Cyril Ramaphosa sê Afrika moet sy eie groen waterstofagenda bestuur om te verseker die vasteland trek voordeel uit globale energieoorskakeling. Hy het tydens die eerste Afrika Groen Waterstofberaad in Kaapstad Afrikalande aangespoor om die leiding te neem met die bepaling van standaarde, die bou van sertifiseringstelsels en die vestiging van waterstofkorridors om beleggings en handel te bevorder. Ramaphosa sê daar is ‘n oorvloed geleenthede, maar waarsku hoë kapitaalkoste en skeefgetrekte beleggingspatrone is groot hindernisse:
# Rugby: Ondersteuners kan van môreoggend nege-uur kaartjies koop vir die Springbokke se tuistoetse in die Rugbykampioenskap. Die verdedigende kampioen en Australië pak mekaar op 16 Augustus op Ellispark in Johannesburg en ‘n week later in Kaapstad. Suid-Afrika en Argentinië speel op 27 September in Durban. Kaatjiepryse vir die toetse teen die Wallabies begin by 525-rand en vir die toets teen die Pumas by 250-rand. SA Rugby sê kaartjies is slegs beskikbaar by Ticketmaster en waarsku dit moet nie van onbetroubare bronne gekoop word nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-136-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-384-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vryemarkstigting en Solidariteit se Navorsingsinstituut beweer swart ekonomiese bemagtiging het Suid-Afrika meer as vyf-duisend-miljard-rand in verlore ekonomiese groei gekos. ‘n Verslag voer aan die nakoming van swart ekonomiese bemagtiging kos tot 290-miljard-rand per jaar en het tot die verlies van byna vier-miljoen werksgeleenthede gelei. Die studie beweer die stelsel bevoordeel hoofsaaklik ‘n klein eksklusiewe groepie, maar belemmer algehele groei en indiensneming. Die stigting versoek ‘n verskuiwing van rassebeleid na breër ekonomiese vryheid en geleenthede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….